Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap ongrondwetlik verklaar

Die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika (Foto: Stefan Schäfer, Lich – eie werk,via Wikemedia Commons)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die Konstitusionele Hof het beslis dat die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap ongrondwetlik is nadat die parlement misluk het om behoorlike openbare deelname daaroor te fasiliteer.

Die parlement het nou 24 maande om die wetgewing te wysig “op ʼn wyse wat met die Grondwet strook” óf om ʼn nuwe wet te aanvaar.

Luidens hofstukke was die doel van die wet om voorsiening te maak vir die erkenning van tradisionele en Khoi-San-gemeenskappe en hul leiersposisies, en om provinsiale en plaaslike sowel as ʼn nasionale huis van tradisionele en Khoi-San-leiers te vestig.

Die land se hoogste hof sou egter hoor dat daar verskeie “tekortkominge” in die openbare deelnameproses in die aanloop tot die inwerkingtreding van die wet was.

Luidens hofstukke is pres. Cyril Ramaphosa deur die applikante in die saak aangemoedig om nie die wet deur te voer nie. Ramaphosa het nietemin in Desember 2020 ʼn kennisgewing gepubliseer dat dit op 1 April 2021 in werking sou tree.

“Die belang van openbare deelname in Suid-Afrika kan nie onderskat word nie,” sê regter Leona Theron nou in die eenparige uitspraak.

“Diegene wat deur wetgewing geraak word, behoort die geleentheid gebied te word om sinvol aan wetgewende prosesse deel te neem. Openbare deelname dien as beskerming om te verhoed dat die belange van gemarginaliseerdes geïgnoreer of wanvoorgestel word.”

Theron sê kenmerke van redelike openbare deelname sluit in werksessies, bewusmakingsprogramme voor openbare verhore en opsommings van die wetsontwerpe wat vertaal is in ten minste drie tale wat in ʼn spesifieke provinsie gepraat word.

Daar behoort ook vervoer na verhore verskaf te word.

Dit is nie in dié geval gedoen nie.

Dit ten spyte daarvan dat die wet “ʼn stuk wetgewing van ontsaglike belang is wat miljoene Suid-Afrikaners raak”.

“Dit het ten doel om een van die mees omstrede, komplekse areas van die Suid-Afrikaanse samelewing te reguleer: tradisionele gemeenskappe en tradisionele leierskap, teen ʼn agtergrond van eeue van koloniale en onderdrukkende regulering,” sê die regters in hul uitspraak.

“Die wet het gehandel oor omstrede, ingewikkelde gewoonteregsake.”

Talle ‘tekortkominge’

Die konstitusionele hof. (Argieffoto: Ashraf Hendricks)

Theron sê die parlement en provinsiale wetgewers was veronderstel om deeglik en noukeurig met lede van die publiek te konsulteer. Pleks daarvan was daar onvoldoende kennisgewings aan die publiek, is inligting dikwels slegs mondelings deurgegee en is verhore weens “swak bywoning” gekanselleer.

Venues is op die nippertjie verander en beloofde vervoer het nooit opgedaag nie.

Afskrifte van die voorgestelde wet is soms bloot nie verskaf nie óf was nie beskikbaar in ʼn taal wat die plaaslike gemeenskap kon verstaan nie.

By sommige vergaderings is mense wat hulle oor die magsmisbruik deur tradisionele leiers wou uitspreek, stilgemaak.

“Alles in ag geneem is dit duidelik dat daar verskeie tekortkominge in die verskillende stadiums van openbare deelname voorgekom het. Die parlement het in sy voorleggings gepoog om redes vir sekere tekortkominge soos groeipyne en ʼn gebrek aan hulpbronne te verduidelik.

“Gegewe die omvang van die getuienis wat deur die applikante ingesamel is, het ek geen twyfel nie dat hierdie tekortkominge ʼn wydlopende en wesenlike mislukking toon om openbare deelname te fasiliteer.

“Dit maak die wetgewing ongeldig,” sê Theron.

  • Die applikante in die saak was Constance Mogale, nasionale koördineerder van die Alliansie vir Landelike Demokrasie, ʼn aktiviste-organisasie wat beleid en wetgewing betwis wat die grondregte van mense wat in voormalige Bantoestans woon, bedreig; die Grondtoegangsbeweging; en twee gemeenskapsverteenwoordigers.

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.