Wian gaan uiteindelik skool toe!

Wian van Biljon in sy nuwe skooluniform. (Foto: Verskaf)

Meer as 356 dae nadat Wian van Biljon (14) met laerskool klaargemaak het, kan hy uiteindelik weer in ʼn uniform by die hekke van ʼn skool instap.

Wian het Dinsdag gehoor dat Hoërskool Kempton Park aan die Oos-Rand vir hom plek kon maak, al is die skool reeds tjok en blok vol. Hy kon nie verlede jaar plek in ʼn enkele hoërskool in Kempton Park kry nie, nadat hy saam met sy ma van Alberton af verhuis het. Toe die skole Woensdag vir die nuwe jaar begin, het Wian, nou al in gr. 9, stééds nie plek in ʼn skool gehad nie.

Maroela Media het die naweek hieroor berig en die bestuur van Hoërskool Kempton Park het hulle oor hom ontferm.

Sy ma, Benetta, sê sy skarrel nou om die regte skool- en skryfbehoeftes vir haar kind te kry sodat hy so gou moontlik by sy nuwe gr. 9-klasmaats kan aansluit.

Wian se splinternuwe skoolklere was Dinsdagmiddag reeds in die wasmasjien toe ʼn opgewonde Benetta met Maroela Media gesels het. Wian het nog ʼn skoolbaadjie, skooltas, vier handboeke, ʼn paar oefeningboeke én ʼn haarsny nodig, wat beteken dat hy waarskynlik eers Donderdag by die skool sal kan begin.

Hy is nietemin baie opgewonde, al het hy reeds ʼn paar skooldae misgeloop.

“Ons is regtig so dankbaar,” het Benetta gesê.

“Wian sien uit om te begin leer en wil graag ook die skool se rugbyproewe bywoon.”

Wian van Biljon in sy nuwe skooluniform. (Foto: Verskaf)

Wian moes noodgedwonge in 2023 sy gr. 8-jaar by ʼn aanlyn skool voltooi nadat die Gautengse onderwysdepartement (GDO) hom nie met ʼn oorplasing van Hoërskool Dinamika in Alberton na ʼn skool in Kempton Park gehelp het nie.

Benetta kon dit egter nie vir ʼn tweede jaar bekostig nie, veral omdat sy ernstige gesondheidsuitdagings ervaar en chroniese medikasie benodig. Wian wou boonop bitter graag weer in ʼn openbare skool wees waar hy interaksie met leerders en onderwysers kan hê.

Die GDO het by navraag oor Wian aan Maroela Media gesê dat plek by Kempbirch Secondary gemaak is, en dat sy ouers by dié skool moet aanmeld om die proses af te handel.

“Kempbirch-leerders sal by Edleen Primary en die Birchleigh-satellietskool ingeneem word terwyl hul skool voltooi word,” het Steve Mabona, woordvoerder vir die GDO, gesê.

Volgens Benetta het sy egter nooit terugvoer in dié verband van die GDO gekry nie. Kempbirch is boonop ʼn Engelse skool baie ver van hul huis af.

Benetta sê Hoërskool Kempton Park, wat ʼn klipgooi van hul huis geleë is, het die afgelope paar dae baie moeite gedoen om vir Wian plek te maak.

“My kind het die reg om in sy moedertaal onderrig te ontvang en ek is so dankbaar dat hy nou die geleentheid gaan kry.” 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nici ·

Ons regering verdien nie hul werk nie. Hul moet almal in die pad gesteek word.

Paul ·

Baie dankie aan mede-Afrikaners wat hierdie Afrikaners behulpsaam was.

Sê maar net ·

Baie dankie, Hoërskool Kempton Park! Sterkte, Wian. So bly vir jou!!

Amelia ·

Ek is so bly vir jou, Benetta en vir Wian. Om ‘n enkelouer te wees is alreeds genoeg van ‘n uitdaging. Sterkte met jou gesondheid, ek vertrou hierdie wending gaan ook op daardie front vir jou verligting bring.

Surizaru ·

As ek “Kempbirch Secondary” google, lyk dit nie eens vir my of daar so ‘n skool bestaan nie! Maar volgens die Gautengse onderwysdepartement was daar vir hom plek daar….

Dorkie ·

Wat het geword van dat kinders net na die skool naaste aan hulle huis kan gaan. Ek sien oral dat sommige kinders lang afstande reis na skole wat nie eers naby hulle wonings is nie? Daar is vol taxi’s wat kinders na ander buurte vervoer?

Ruby ·

Hoërskool Kempton Park…RESPEK!

Dankie dat julle ingetree het vir wat reg is.

Michael ·

Diskriminasie, geen wonder die bitter einders organisasie gaan oor tot geweld nie presies wat die anc gedoen het tydens apartheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.