Jaar later en seun kry stééds nie plek in skool

Wian van Biljon (14) wag nog vir plek in ‘n skool. (Foto: Verskaf)

Al wat Wian van Biljon (14) wil doen, is skool toe gaan. Hy kan ʼn Afrikaanse hoërskool immers van hul huis in Kempton Park aan die Oos-Rand sién.

Maar nes talle ander hoërskole in die provinsie, is dié skool reeds tjok en blok vol en moet Wian nou by die huis sit terwyl sy eweknieë al drie dae lank met hul gr. 9-jaar besig is.

Dit is boonop die tweede jaar dat Wian nie plek in ʼn skool in die omgewing kon kry nie.

Die gemors het in Desember 2022 begin, toe Wian en sy ma, Benetta, skielik van Alberton na Kempton Park aan die Oos-Rand moes verhuis.

Dit was kort nadat Wian deur die Gautengse onderwysdepartement (GDO) in Hoërskool Dinamika in Alberton geplaas is, waar hy sy gr. 8-jaar sou begin.

Benetta het destyds aan Maroela Media gesê sy het die departement dringend genader om Wian na ʼn ander skool in hul nuwe omgewing oor te plaas, maar dit het nooit gebeur nie. Dit was te ver en te duur om Wian elke dag van Kempton Park na Alberton te vervoer en Benetta was uiteindelik genoop om Wian by ʼn aanlyn skool in te skryf.

So het hy sy gr. 8-jaar by Think Digital voltooi – teen R12 000. Dis geld wat Benetta met behulp van haar oudste seun bymekaar moes skraap en nie weer vanjaar sal kan betaal nie. Die skole in die omgewing het haar egter ingelig dat hulle stééds nie plek het vir Wian nie.

Maroela Media het die afgelope week berig dat veral hoërskole in Kempton Park ʼn ongelooflike uitdaging met plek ervaar, dermate dat die departement gr. 8’s by laerskole in die omgewing wil plaas. Die GDO het Dinsdag nog inderhaas ʼn satellietskool in ʼn oop veld in Birchleigh probeer oprig. Maroela Media verneem dié skool is egter nie betyds voltooi nie en sal eers Maandag oopmaak.

Benetta het vandeesweek aan Maroela Media gesê haar gesondheid het geweldig agteruitgegaan en dat sy nou op chroniese medikasie en ʼn perperduur dieet is. Sy het boonop nie ʼn voertuig nie en is benewens die hulp van haar oudste seun net van haar Sassa-toelaag afhanklik.

Haar enigste hoop is dus ʼn openbare skool.

Hoërskole in Kempton Park ervaar veral ʼn groot uitdaging met plek. Die GDO het Dinsdag nog inderhaas ʼn satellietskool in ʼn oop veld in Birchleigh probeer oprig. (Foto: Pieter Cloete)

“Wian wil so graag in ʼn skool wees, en hy het die sosiale interaksie met maats van sy eie ouderdom nodig. As jy aanlyn skoolgaan, het jy nie daai interaksie nie, ook nie met die onderwysers nie. Alles gebeur oor ʼn skerm,” het sy gesê.

“Hy wil kyk of hy rugby of hokkie kan speel, en wil graag robotika doen. Hy wil eendag ʼn werktuigkundige word …”

Benetta hoop die departement sal haar kan bystaan, en dat ʼn skool in die omgewing dalk vir Wian plek sal vind.

Maroela Media het ʼn navraag aan die onderwysdepartement. Hul terugvoer sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Maroela Media het ook met ʼn hoërskool in Kempton Park gesels, wat bevestig het dat hulle reeds oorvol is. Hulle doen egter hul bes om leerders te help en akkommodeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ES ·

Dis nou wat daarvan kom as die regering al die mag het om te besluit waar jou kind mag skoolgaan en jy nie eers daardie keuse self mag maak nie. Viva Suid Afrika…

Yolandy ·

Jy is gelukkig nie die enigste even nie, laashaar in Pretoria Moe’s n ma ook sukkel om haar kind in the kry want die dept is the slap en hy het sy matriek Jaar verloor agv dit, ek hoop maar hy het die Jaar reg gekom

Bolandse Nooi ·

Hiep-hiep, hoera!!!! Viva ANC, viva “freedom”, viva “democracy”.

Nommer 7 ·

Ongelukkig, en ook verstaanbaar, is skole huiwerig om leerders in te neem wie se ouers kwalifiseer vir 100% skoolgeld afslag. Dit sit ook’n las op betalende ouers wat dan moet instaan vir hierdie afslae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.