Wilbur Smith sterf

Die skrywer Wilbur Smith (88) is Saterdag by sy huis in Kaapstad oorlede. (Foto: AFP / Haider Shah)

Die bekroonde skrywer Wilbur Smith is Saterdag in die ouderdom van 88 by sy huis in Kaapstad oorlede.

Luidens ʼn verklaring op Smith se webwerf is hy “onverwags” ná ʼn oggend van lees en skryf dood. Sy vierde vrou, Niso, was by hom.

Die oorsaak van sy dood is nie in dié stadium bekend nie.

Smith het oor die afgelope halfeeu 49 boeke neergepen waarvan meer as 140 miljoen eksemplare in meer as 30 tale verkoop is.

Sy avontuurverhale het lesers onder meer na tropiese eilande met geheime skatte weggevoer en op reise na goudmyne in Suid-Afrika geneem. Ander stories het weer in die oerwoude van die Afrika-wildernis, Arabië, Khartoem, antieke Egipte en gedurende die Tweede Wêreldoorlog afgespeel.

Wilbur Smith het oor die afgelope halfeeu 49 boeke neergepen. (Foto: Susan Lombaard)

Smith se heel eerste roman, When the Lion Feeds, is in 1964 uitgegee en was gou ʼn topverkoper. Sy daaropvolgende boeke het elkeen topverkoperlyste gehaal – dikwels nommer een.

Sy boek The New Kingdom, wat saam met Mark Chatbourn geskryf is, is vroeër vanjaar uitgereik.

Smith, die seun van Britse ouers in Zambië, is in 1933 gebore en het op ʼn plaas grootgeword. Hy was ʼn grootwildjagter en het as natuurbewaarder sy eie wildreservaat bestuur. Hy het ook  ʼn tropiese eiland in die Seychelle-eilandgroep besit.

Die skrywer het ʼn vlieglisensie gehad en was ook ʼn skubaduiker.

Smith het voorheen gesê dat sy ouers ʼn groot rol in sy uiteindelike loopbaan as skrywer gespeel het.

Sy ma het hom geleer om lief vir die natuur en lees te wees, terwyl sy pa, ʼn streng tugmeester, al sy eerste geweer aan hom oorhandig het toe hy agt jaar oud was. Dít was glo waar sy groot liefde vir jag en vuurwapens begin het.

Luidens die verklaring op sy webblad het Smith as skrywer in deeglike navorsing geglo en om oor dinge te skryf “wat jy goed ken”.

In sy 2018-memoir, On Leopard Rock, vertel Smith hy het “moeilike tye en slegte huwelike” gehad, maar dat dit op die ou end bygedra het tot ʼn “fenomenaal vervulde en wonderlike lewe”. “Ek wil onthou word as iemand wat plesier aan miljoene verskaf het,” het hy geskryf.

Kevin Conroy Scott, Smith se literêre agent van die afgelope 11 jaar, het hom as ʼn “groter-as-lewensgroot-ikoon” beskryf.  Huldeblyke het intussen vir Smith op sosialemediaplatforms ingestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Louis ·

Ek het elke boek van hom en het net n paar weke gelede die nuutste boek klaar gelees. Seker die skrywer wie ek die meeste geniet het.

KB ·

RIV Wilbur, jou nalatenskap is egte Africana. Ons het jou boeke (as jong seuns) deur- en weer-gelees!

Harley Davidson ·

Hy was ‘n legende in skryf ek onthou hoe ek my kon inleef in sy verhale veral goldmine was ‘n grote,hy verdien ‘n staatsbegrafnis en nie die ander maaifoedie nie.

Martie Smartie ·

Ja stem saam. Die leier vd bleekbende het minder bygedra vir SA

Francois ·

Sy 1ste boek(When the Lion feeds) was verban in SA in 1965. My Pa het n kopie gehad (versteek in boekrak en toegedraai in bruin papier). Ons kinders het dit skelm gelees. Die boek is uiteindelik ontban in 1976, en die bruin papier kon afgehaal word. Smith het deel geword van baie huishoudings se boekrakke.(wel, die wat boeke lees)

Jack ·

Die paar boeke van WB wat ek baie jare gelede gelees het was maar baie negatief teenoor Afrikaners. Ons is as agterlik en verdrukkers voorgestel Toe besluit ek dat ek die man nie sal ondersteun nie.

Francois ·

Shame! Dat jy nou nie oor die waarheid kon kom nie, en uitgemis het op goeie stories

Keelvol ·

Die hartseer is, die liberale onder ons doen presies dieselfde.

Mamba ·

Een van die grotes, het Elepant Song, Warlock en Birds of pray nogal geniet. Sal defnitief gemis word. Rus in vrede!

Fedup ·

R. I. P my most favorite author.
You will be rembered for the joy of reading your amazing books.
Simpathy to his loved one’s.

PersHeks ·

Wat ‘n verlies vir ons lesers! Het vreeslik baie van sy boeke gehou!!

Johan ·

Baie genot geput uit elke boek. Ek lees almal nou weer. Pragtige nalatenskap.

Rudolf ·

Rus in vrede Mnr. Smith en dankie vir die stories. Jou nalatenskap sal voortleef.

Niklaas ·

Ek het die hele versameling en lees gereeld van die boeke vir ‘n 2 de of 3 de keer. Ek hou veral van die Courtney’s se lief en leed . Daar is bitter min ander skrywers in sy klas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.