Wilgenhof 24 uur gemonitor; verwelkomingsprogram ‘belyn’ 

Die Wilgenhof-manskoshuis in Stellenbosch. (Foto: Maroela Media)

Die Wilgenhof-manskoshuis op Stellenbosch sal 24 uur per dag gemonitor word om te verseker dat die koshuis in lyn bly met die waardes en aanvaarbare praktyke soos onderskryf deur die Universiteit Stellenbosch (US).

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, het in ʼn skrywe aan die universiteitsgemeenskap gesê die twee vertrekke waarin daar “ontstellende artikels” gevind is, sal nou vir hul oorspronklike gebruik aangewend word.

“Die koshuisverwelkomingsprogram is ten volle in lyn met ons waardes en aanvaarbare praktyke van gemeenskapsbou en die bevordering van kameraadskap. By die US is dit vir ons ’n institusionele prioriteit om ’n welkome tuiste vir almal hier te bied. Gegewe ons geskiedenis het ons instelling ’n paar uitdagings in hierdie verband, maar oor die afgelope paar jaar het ons belê in pogings om ons instelling te omskep in een waar inklusiewe uitnemendheid, menswaardigheid en wedersydse respek al ons verhoudings en interaksies onderlê,” skryf De Villiers.

Prof. Wim de Villiers. (Foto: US)

Dit is in hierdie konteks dat die inhoud wat onlangs deur US-personeel in twee kamers van die Wilgenhof-koshuis gevind is, “diep ontstellend is”.

News24 het berig grafiese beelde, sketse en geskrewe beskrywings van “straf” wat in dié koshuis toegedien is, is onder die items wat agter die geslote deure van Wilgenhof-koshuis gevind is. Daar is ook verwys na die “gruwelike mishandeling” waaraan sommige van die inwoners onderwerp is.

Dit dui volgens De Villiers op oënskynlik onaanvaarbare praktyke wat in stryd is met die US se waardes. “Hierdie items is verwyder en beveilig en ’n paneel is aangestel om die items volledig te assesseer. Die paneel sal die rektoraat van aanbevelings voorsien oor die toepaslike verdere hantering van hierdie aangeleentheid. Ons verwag die verslag teen einde Februarie. Ons hanteer hierdie saak met die erns wat dit verdien, sonder om die bevindinge van die paneel vooruit te loop.”

Volgens De Villiers werk toegewyde koshuisbestuurspanne aktief saam met mekaar om ’n “veilige en ondersteunende omgewing” oor al die US se koshuise heen te verseker.

“Die veiligheid en welstand van ons studente is ononderhandelbaar. Die universiteit het ’n beleid van geen verdraagsaamheid nie teenoor enige dade, gedrag of strukture wat bydra tot die vernedering van enige lid van die universiteitsgemeenskap. Vir hierdie doel het die universiteit ’n proses van diepgaande introspeksie begin na aanleiding van ’n paar betreurenswaardige voorvalle by ons instelling in die onlangse verlede.”

Regter Edwin Cameron. (Foto: US)

Oudregter Edwin Cameron, US-kanselier en oudinwoner van Wilgenhof, het in ʼn verklaring gesê daar kan geen plek by die US wees vir enige praktyk of gedrag wat enigiemand verkleineer, afkraak of onbehoorlike mag oor iemand anders gee nie.

“Ek is ontsteld oor bewerings dat vernederende praktyke in die onlangse verlede by Wilgenhof plaasgevind het. Die wydverspreide ontsteltenis oor hierdie onthullings is ten volle geregverdig. Ek is ook ontsteld oor voorstelle dat vernederende dissiplinêre prosesse afgedwing is. In albei gevalle het die universiteit na my wete reeds stappe gedoen om dit te stop. Ek beaam, ten sterkste, die US se reaksie op die onthullings oor Wilgenhof se geskiedenis en vorige dissiplinêre prosesse, en ek ondersteun dit ten volle.”

Volgens Cameron is hy trots op die feit dat die universiteit onder De Villiers se leiding ’n “baie meer diverse, verdraagsame en inklusiewe instelling is as wat dit eens was”.

“Hierdie oorblyfsels van die verlede moet uitgewis word. Die rektor en visekanselier het ’n ondersoek van stapel gestuur na die betekenis hiervan. Ek sien uit daarna om die ondersoek te probeer bystaan op enige manier binne my vermoë.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Catherina ·

Baie van ons familie is al deur Wilgenhof. Almal së dit was maar deel van koshuislewe en dis dit! Hierdie persoon en ander wat gekla het , is miskien “mommy,s boys”. Ai tog….sekere mense soek net aandag.

Republikein in die Wes Kaap ·

In daai donker kamers is die Afrikaner en die land se toekoms bewimpel.

George ·

Die see het mos destyds tot hier gespoel, terug getrek en die skuim agtergelaat.

Prikkie ·

Ek hou nie my asem op dat daar iets daadwerkliks van gaan kom nie.

Die universiteit het BAIE jare gehad om hierdie wanpraktyke stop te sit, en nee, dit is nie “maar net deel van koshuislewe en dis dit” nie.

houopkruip ·

Enige van ons mense wat ons land se geskiedenis ken weet dat die land se mislukte toekoms deur skelmbos universiteit se hoogheiliges beplan en uitgevoer is.
Niks en niemand gaan hulle keer met hul voortdurende kruipery nie.

Sat Tier ·

As jy nie wil deelneem nie, trek.

Wat nou van diegene wat ‘n tradisionele koshuislewe wil geniet?
Lyk my ‘inklusiwiteit’ beteken ‘eksklusief eenders denkendes’.

Nierkie ·

Vim en Cameron was seker Unisa studente en sal nooit die koshuis kultuur verstaan nie. Maar dis reg maak die Gen Z’s meer softies as wat hulle reeds is. Die grootmens wereld sal hulle uitsort sonder sagte handskoentjies. Mooi Vim trots op jou – weereens

Christian Grobler ·

Dit wil vir my voorkom die verwelkoming of ontgroening by alle universteite is maar soos die inisiasie tradisies onder die swart volke waar lewens verliese gereeld van gehoor word maar dit mag maar ongehinderd voort gaan.

George ·

@Sat Tier, ongelukkig werk die lewe nie so nie. Dat daar “oud lede” steeds betrokke is, is niks anders as creepy nie. Sal jy gelukkig wees as iemand jou kind kaal laat staan, en af kos gee om te eet vir hul eie entertainment?

George ·

@Christian, waarvan jy praat is deel van hul tradisie en ” tribes” die, by n openbare universiteit, is nie reg nie, en moet ook nie toegelaat word nie.

George ·

Eks bly so baie van julle dink seksuale mishandeling tussen koshuisseuns is oraait, en “normale” koshuis lewe.

Elma ·

Diverse, verdraagsame en inklusiewe? Nee maar goed dan. As julle so sê dan is dit seker so.

Prikkie ·

@George – hier is ‘n paar kommentare wat net as “siek” beskryf kan word, so siek soos diegene wat gedink het dit is pret.

Pret is wanneer ALMAL wat daaraan deelneem dink dat dit prettig is.

Nie ‘n klomp eerstejaartjies intimideer en boelie nie. Dit is nie pret nie, ook nie inklusief of ekslusief nie.

As daar diegene is wat nog verlang no “so” ‘n koshuislewe, stel ek voor dat hulle by Pollsmoor “koshuis” gaan aanmeld. Daar kan dit vir jou prettig raak en sal jou hopelik van jou hunkering genees.

Elmarie ·

@Prikkie en George – stem 100% saam. Walglikhede, boeliegedrag was nog nooit aanvaarbaar nie

Jax ·

Nee wat. Ek weet ongelukkig meer as wat ek wil weet en sal nooit ooit enige iemand aanraai om hul kinders koshuis toe te stuur nie. Veral nie Wilgenhof nie. Waarvoor spandeer ons derduisende Rande vir ons kinders se beroeps-opleiding en verblyf, net om uit te vind, daar waar hulle moet swôt en slaap, is wangedrag van seniors aan die orde van die dag met die dekmantel van samenhorigheid en wat ander nonsens hulle uitdink om eerstejaars “by te dam”? Ons kinders is daar om te leer vir die beroep van hul keuse – skrap die onnodige sogenaamde “verwelkoming” – dit is nie waarvoor ons, as ouers, ons simpel werk en spaar vir ons kinders se toekoms nie! Dis hoërskool gedrag en uiters kinderagtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.