Wit Suid-Afrikaners steeds huiwerigste oor entstof – studie

(Argieffoto: GCIS)

Wit volwassenes in Suid-Afrika is steeds huiweriger om die entstof teen Covid-19 te ontvang as hul swart medeburgers, het ʼn nuwe studie bevind.

Die uitslag van die opname, wat na verwagting Woensdag bekend gemaak sal word, wys dat sogenaamde entstof-aanvaarding landwyd wel verbeter het. Sowat die helfte van wit Suid-Afrikaners is bereid om ingeënt te word, in vergelyking met 75% van swart volwassenes.

ʼn Vroeëre opname deur dieselfde organisasies ses maande gelede, het aangedui houdings jeens die entstof verskil volgens ras, met wit Suid-Afrikaners wat die minste geneë is om die entstof te aanvaar.

Die huiwering het die afgelope paar maande toegeneem.

“Entstofaanvaarding onder wit volwassenes het van 56% tot 52% afgeneem, terwyl dit van 69% tot 75% onder swart volwassenes toegeneem het,” lui die bevindings van die studie wat gesamentlik tussen die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Sentrum vir Maatskaplike Verandering en die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gedoen is.

In die algemeen het entstofaanvaarding toegeneem van 67% tot 72%. Die eerste studie is vroeg in Januarie gedoen en die tweede tussen Junie en Julie.

Meer as 7 600 mense het aan die opname deelgeneem.

Diegene wat skepties oor die entstof bly, voer kommer oor newe-effekte aan as rede vir hul huiwering om teen die koronavirus ingeënt te word.

“Kommer oor newe-effekte en die doeltreffendheid van die entstof is veral groot onder wit volwassenes, die groep wat die grootste huiwering oor die entstof het.”

Suid-Afrika het reeds meer as 2,6 miljoen Covid-19-gevalle en byna 78 000 sterftes. Die land se entstofprogram het betreklik laat aan die gang gekom en tot dusver is net meer as 10% van die volwasse bevolking ten volle ingeënt.

Die minister van gesondheid, Joe Phaahla, het onlangs sy kommer uitgespreek oor veral die getal mans wat ingeënt word. Altesame 60% van diegene wat tot dusver die entstof ontvang het, is vroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.