‘Word wakker, mamma is hier’; tiener in koma ná motorfietsongeluk

Deacon du Plessis

Deacon du Plessis is ernstig beseer nadat hy met sy Honda Fireblade-motorfiets in ’n botsing betrokke was. (Foto: Verskaf)

’n Gr. 11-leerder aan die Hoër Tegniese Skool (HTS) Witbank in Mpumalanga is tans in ʼn kunsmatige koma nadat hy die afgelope naweek ernstig in ’n motorfietsongeluk beseer is.

Deacon du Plessis (17), ’n kranige potspelspeler, het Vrydagaand by ’n vriend oorgeslaap nadat hulle vir ʼn potspelligawedstryd wat Sondag plaasgevind het, geoefen het. Du Plessis het provinsiale kleure in dié sportsoort en was besig om vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap in die Wes-Kaap later vanjaar voor te berei.

Volgens sy ma, Joy, was Deacon Saterdag omstreeks 10:00 op pad huis toe toe ʼn motor glo in Monastraat in eMalahleni ingedraai en teen Deacon se Honda Fireblade-motorfiets gebots het.

“Hy is tans in die Witbank-staatshospitaal waar hy baie goeie versorging kry. Sy regterbeen is bokant die knie gebreek en hy ondergaan vandag ʼn operasie.

Deacon se motorfiets ná die ongeluk. (Foto: Verskaf)

“Dokters gaan penne insit en moet ook ’n groot oop wond aan die been skoonmaak.

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir alles wat die dokters en verpleegsters vir hom doen nie.”

Du Plessis sê haar seun is tans onder verdowing en dat daar nog swelling op sy brein is.

“Hy kry voeding deur pype en daar is ook pype in sy mond wat sy longe en asemhaling stabiel hou.

“Hy het gister vir die derde keer bloed ontvang. Sy bloeddruk was baie laag, maar was Woensdagaand stabiel.”

Volgens Du Plessis het Deacon ook skade aan sy niere opgedoen waarvoor hy tans medikasie ontvang. Dokters het hom egter Woensdag van spierverslappingsmedikasie afgehaal waarna hy sy groottoon en hand beweeg het.

“Voordat ek geloop het, het die dokter sy hand op Deacon se bors gesit en gesê hy moet wakker word want ‘Mamma is hier’. Toe lig hy sy hele linkerskouer op – dit het vir my so baie beteken.”

Du Plessis sê hulle weet in dié stadium nie of Deacon permanente skade opgedoen het nie en sal moet wag tot hy wakker word.

Deacon is ’n gr. 11-leerder aan die HTS Witbank en ’n kranige potspeler. (Foto: Verskaf)

“Ons weet wel dat sy been lank gaan neem om te herstel en dat hy onder meer fisioterapie sal moet kry. Mense van oor die land bid egter so hard saam met my vir Deacon se herstel en ek glo dat God besig is om my kind 100% te genees.

“Ons kry ook geweldig baie ondersteuning van sy skool.”

Du Plessis sê daar is geen woorde om te beskryf wat deur ’n ma se kop gaan as jy hoor jou kind was in ’n ongeluk betrokke nie.

“Ons kinders is ons hartklop en myne het beslis ’n hele paar ritmes verloor.

“Toe ek hom daar sien lê en sien hoe hulle sy klere afsny, was ek histeries in my binneste. Daar was baie bloed wat ook by sy neus, mond en regteroor uitgeloop het.

Deacon as sewejarige. (Foto: Verskaf)

“Ek het net begin bid want daar was niks anders wat ek kon doen nie. Ek het nog nooit in my lewe so magteloos gevoel nie.”

Du Plessis sê Deacon het as sewejarige begin motorfiets ry en dat sy ysterperd sy trots en passie was.

Die voorval is by die polisie aangemeld en die gesin het reeds ’n saaknommer ontvang. Die polisie het egter nog nie op Maroela Media se navraag reageer nie.

Dit is in dié stadium onduidelik of iemand vir die ongeluk aanspreeklik gehou gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Belinda ·

Net een vraag, hoekom koop ouers vir hulle sulke groot motorfietse? Kinders wat so jonk is, is windgat en wil altyd “shine”vang. Ek self is n motorfiets ryer en ekt al gesien wat kinders doen. Mens moet respek he vir die fiets, of hy op motorfietse groot geword het of nie….

Anoniem ·

Ek het ook al beleef hoe windgat julle ou mense op motorfietse is. vleg deur verkeer, slaan karre op die dakke, breek spieels af, omdat die motoris nie genoeg plek gelos het dat jy kan deurkom!. Is dit ook shine vang, of plain windgat?

Anel ·

Nou moet daar nog besluit word of iemand vir die ongeluk verantwoordelik is. Hoe? Volgens die berig het iemand voor die seun in gedraai! So, dis roekelose en nalatige bestuur! Wonder maar ook net wat van die persoon geword het of is dit nou weer ‘n onaantasbare? Stetkte aan die familie.

Pierre ·

Ongelukkig mag die seun op 17jr oud nie groter as 125cc motorfiets ry nie. Hy gaan as die skuldige geblameer word.

Cherokee ·

Verkeerd Piet, verkeerd. Hy kan skuldig bevind word aan ‘n oortreding met betrekking tot sy lisensie toelating, maar dit maak hom steeds nie outomaties skuldig aan ‘n ongeluk waarvoor hy miskien nie blameer kan word nie. Jy raai verkeerd.

Adam Adriaan ·

Dank vader dat ek my kinders vebied het dat enige motorfiets op my erf kom. Vele van hulle vriende het ook verongeluk met die goed. ‘n Kind ry ‘n fiets. Vandag is hulle en ek nie speit nie

MAGRIETHA ·

Voordat daar geoordeel word maak eers seker wat gebeur motoriste is baie onverskillig op ona paaie eks baie op die pad sommige motoriste het geen respek vir padreels ,voetgangers,fietse,ens nie gaan kyk maar Sterkte aan die seun en sy ouers

Antjiepat ·

Ek wonder net is die seun nie veronderstel om 18 te wees om so grooot motorfiets te ry nie.. maar ek bid dat jy gou sal herstel…

Wielspore ·

Op ouderdom 17 is jou liggaam nog sterk om spoedig en volkome te herstel van beserings, sterkte!

Sandra ·

Aai tog. Baie sterkte vir julle as ‘n gesin. Nog voor ons kan vra vir sy herstel, is God al klaar daar om Sy wakende hand oor die kind te hou.

Jakez ·

Baie hartseer, maar ek stem saam hy is nog te jonk vir ‘n Blade.
Ek is ook self ‘n biker en daai fiets is nie speletjies nie!

Patrick ·

Ek het nooit Suid Afrika toe maar dis is n’ probleem in Kanada ook. Ek het n’ vriende in die hospitaal kuier. Hy het n’ motorfietsongeluk ook.

Windhond ·

Dankie dat jy Afrikaans praat, ek verstaan jou baie goed, – ja as mens maar so kyk na U Tube dan besef mens dis nie speelding nie en mense wereld wyd het geen respek vir n biker nie

Cherokee ·

Pragtige Afrikaans, Patrick! Dit is lekker om jou te lees.

Althes ·

Baie sterkte aan die gesin. Ons bid vir sy spoedige volkome herstel

Kremetart ·

Baie jammer om te hoor. ‘N ma is bitter lief vir haar kinders.
Maar gister toe die skool sluit sit n uiters astrande 16jarige seun in my klas met wenkbroue geskeer soos die skollies doen en hare gesny in n ontoelaatbare styl. En hy sê sy ma het die afspraak by die haarkapper gemaak en sy gee nie om as hy skoolreels oortree nie… dadelik asn die seun en sy ma gedink toe ek die artikel lees.
Jammer, wil nie ongevoelig klink nie.

Werner ·

So motorfiets vir n graad 11 leerder ons het 50cc fietse gehad dit was die lisensie grootte blameer die ouers

DIABLO ·

Ek is self mal oor motorfietse, maar deesdae is dit bitter gevaarlik. Mense sien nie motorfietse raak nie. Of jy nou n verantwoordelike motorfietsryer is of nie, dit is net eenvoudig te gevaarlik op ons paaie. Baie sterkte jong man. Ek hoop jy word gou gesond.

Francois ·

Ek is jammer maar as ek kyk na die oorblywende stukke van die moterfiets het hy nie net 60km in n beboude area gery nie.

isabelle ·

EK bid en hou die seun en sy geliefdes in gebed God is groot en ons spreek lewe Hy sal vinnig weer perdfris en gesond wees……..Ek moet by se dat elke sport het sy beseering …..maar EK VOEL DAT DAAI MOTORFIETS NIE VIR DAAI SEUN GEPAS IS NIE(ons as mens raak gou die krag gewoond en dan te mak)

Ek sukkel net so met my man wat sy seun op n jong ouderdom laat kar ry
EK verstaan in nood sal die seun kan ry maar wat my so boos maak is dat die seun nie op die pad hoort of selfs agter n stuurwiel WEES KIND KLIM BOOM daarvoor kort jy nie n lisensie nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.