WVF werk nog aan Ters-verlenging

(Foto: Facebook)

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) werk nog aan die besonderhede van die verlenging van die Covid-19-Ters-voordele, soos die president tydens die staatsrede aangekondig het.

Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy staatsrede aangekondig dat die voordele van 16 Oktober 2020 tot 15 Maart 2021 verleng word. “Die fynere besonderhede oor die verlenging sal by Nedlac bespreek en gefinaliseer word,” het Makhosonke Buthelezi, woordvoerder van die WVF, in ʼn verklaring gesê. “ʼn Aankondiging sal gemaak word sodra die besonderhede gefinaliseer is.”

Hy sê bedrywe wat sedert die aanvang van die afsonderingsperiode nie ten volle bedrywig was nie, sal bystand ontvang. “Dit sluit die toerisme-, gasvryheids- en alkoholbedryf en ander bedrywe in dié waardeketting in.”

Die WVF sal ʼn aankondiging maak sodra die stelsel vir die nuwe periode oop is en riglyne verskaf om gebruikers te ondersteun met die aansoekproses.

“Die Fonds sal voortgaan om agterstallige eise vir Covid-19-Ters-voordele, wat reeds in die stelsel is, te prosesseer en te betaal. Die Fonds herprosesseer voortdurend eise wat reeds in die stelsel is, sodat dié wat reggestel is en geldig verklaar is, betaal kan word sodra die betalingslopie gedoen word.”

Die WVF het sedert Maart verlede jaar reeds nagenoeg R60 miljard uitbetaal. Die oorspronklike begroting was R40 miljard.

“Die maatskaplike bystand van die departement van indiensneming en arbeid vorm deel van die algehele regeringsreaksie om die ergste impak van die Covid-19-pandemie te takel en seker te maak dat werkers, weens die sluiting van die ekonomie, nie behoeftig gelaat word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie J ·

Na hulle aanvanklike patetiese vuurdoop sal dit insiggewend wees om te sien aan welke besonderhede hulle nou nog aandag skenk. Seker n stelsel om te verseker dat skelm kaders nie so gou uitgevang word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.