Wyle ds. Liezel se man ‘beseer’ in ongeluk wat twee eis

Werner en Liezel de Jager. (Foto: Facebook)

Die vermoorde ds. Liezel de Jager se wewenaar, Werner, is in April vanjaar na ’n hospitaal in die Vrystaat geneem vir mediese behandeling nadat hy in ’n noodlottige ongeluk op die N1 naby Kroonstad betrokke was. Die ongeluk het die lewens van twee vroue geëis.

Drie maande later is dit steeds onduidelik of De Jager strafregtelik vervolg gaan word vir sy beweerde aandeel in die ongeluk.

Linda Eales (54) en Berniese Eales (84) is op 15 April vanjaar dood nadat Werner met sy voertuig van agter in die vroue se voertuig sowat drie kilometer van die Koppies-afrit in die rigting van Kroonstad vasgery en Linda beheer oor die voertuig verloor het.

Die nooddienste is die betrokke dag om 07:25 na die toneel ontbied en Linda en Berniese is met paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar.

Drie ander pasiënte, ook De Jager, is die betrokke oggend na die Kroon-hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat De Jager tydens die ongeluk beseer is.

Earle sê die polisie ondersoek tans ’n saak van strafbare manslag.

“Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die dossier na die direkteur van openbare vervolging (DOV) gestuur word vir ʼn besluit.”

Werner de Jager het byna twee jaar gelede verdwyn nadat Liezel dood buite hul huis op Amanzimtoti aangetref is. Die wewenaar is later in ʼn bedenklike toestand in sy motor in ʼn suikerrietplantasie in Illovo-Suid gevind en na ʼn hospitaal gehaas.

Liezel, ’n leraar, is die oggend van 13 Oktober 2021 met wurgmerke aan haar nek dood by die pastorie van die NG Kerk Suidkus aangetref nadat sy saam met ʼn groep mense gaan draf het.

Die polisie het tot dusver egter nog min vordering in die ondersoek na haar moord gemaak.

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, sê die polisie het nagelaat om getuienis op te volg of terugvoer aan die familie te gee oor nuwe verwikkelinge in die saak. Action Society het al 18 keer namens die familie opgevolg in die saak.

Volgens Cameron is daar iemand van belang wie se selfoon moontlik relevante inligting bevat wat saam met inligting van Liezel en haar man se selfone tot ʼn deurbraak in die saak kan lei.

Cameron het ook gesê speurders het ʼn lys vrae vir Werner saamgestel en gevra dat hy dié vrae met behulp van ʼn poligraaftoets beantwoord. Die polisie het volgens Cameron egter nooit opgevolg nadat Werner nie daarvoor opgedaag het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Ongelooflik. Kan letterlik nie glo dat ons “regs stelsel” so disfunksioneel is nie. Nog erger dat die veronderstelde ministers kompeteer vit die mees onbesonne, onbevoegde onverandwoordbare kadrer is. Maar dan leer hulle by RamNoCio.

otter ·

imagine dit , as hy nou opgesluit was , was daai 2 vrouens nog lewendig.

Hennie ·

My voorspelling van wie die skuldige is, raak al hoe nader aan die kol….

Aggie ·

Hoe lank kan dit dan nou neem om ‘n saak van strafbare manslag voor te berei ? April tot nou??

AH ·

Daar is té veel “toevallig” goed wat rondom die man plaasvind….. Hoe kan hy wegkom met sy “no show” vir ‘n poligraaf toets? So baie vrae….

Veronika ·

Ek sê nog vd begin af daar kan maar met n vergrootglas na die wewenaar gekyk word………something’s fishy here……

Niklaas ·

Dit lyk my hier is ‘n geval van vrot polisie ondersoeke , want dis vir almal taamlik duidelik wie die moontlike skuldige in hierdie saak is. Waarom sloer als so ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.