Wysigings aan Bela-konsepwet positiewe wending

Die wysigings wat aan die Bela-wetsontwerp aangebring, wys daar is hoop.

Dit is die mening van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) ná die wysigings vandeesweek deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se komitee vir onderwys, tegnologie en sport goedgekeur is.

Die nuutste Bela-wetsontwerp sal op 2 Mei voorgehou word vir finale goedkeuring, waarna dit na die Nasionale Vergadering vir goedkeuring gestuur word. Hierna moet die president dit bekragting.

Ingevolge Bela kan die departementshoof, waar dit volgens hom of haar as prakties en uitvoerbaar beskou word, ʼn openbare skool opdrag gee om meer as een onderrigtaal te aanvaar.

Paul Sauer, uitvoerende beampte van die SAOU, meen daar is hoop omdat dit uit die wysigings lyk of daar tóg geluister is na voorstelle en wysigings wat gemaak is.

“Die feit dat die verpligte indiening van die toelating- en taalbeleid vir goedkeuring aan die onderwyshoof uit die wetsontwerp verwyder is, en dat die skoolbeheerliggaam spesifiek genoem word as beleidsteller in die wetsontwerp, slaan ʼn slag vir openbare skole” sê Sauer.

Nog ʼn positiewe stap vir die SAOU is dat die onderwyshoof, in die voorneme om ʼn skool se taalbeleid te verander, dit in oorleg met die skoolbeheerliggaam moet doen.

“Die skool se huidige taalbeleid moet in ag geneem word en wanneer die administratiewe besluit geneem word, moet dit die toets van redelikheid, regmatigheid en prosedurele billikheid kan slaag,” sê Sauer.

Hy wys ook daarop dat dié standpunt reeds deur die Konstitusionele Hof getoets is.

“Die SAOU se deelname in die mobilisering van gemeenskappe tot kommentaar op nasionale en provinsiale vlak het aan die openbaredeelnameproses bepaalde legitimiteit verleen, wat ongetwyfeld die gewenste uitwerking gehad het.”

Die SAOU sal voortgaan hiermee en op 2 Mei weer formeel standpunt inneem sodra die finale weergawe ter tafel gelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Kom ons wees prakties. Waar moetThabo en Kgabo wat naby ‘n Afrikaans medium skool woon nou skoolgaan in Engels. Nuwe demografie in woonbuurte gaan die departementshoof noop om in te gryp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.