Wysigings rakende Zondo-kommissie verwelkom

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Pres. Cyril Ramaphosa het die reëls rakende die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gewysig. Dié wysigings behels dat bewyse en getuienis wat tydens die ondersoek na staatskaping aangebied word, nou aan wetstoepassingsagentskappe bekend gemaak mag word.

Die wysigings is Dinsdag in die Staatskoerant gepubliseer en het onmiddellik met publikasie in werking getree.

Kenners is nou optimisties dat diegene wat ’n hand in staatskoffers het, eindelik vervolg sal word.

Hermione Cronje, hoof van die ondersoekdirektoraat in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), verduidelik dat die president se wysigings dit nou vir die NVG makliker maak om diegene wat verantwoordelik is vir staatskaping voor ’n hof te bring.

Volgens Cronje het die hersiening haar eenheid ook moontlik van ʼn tekort aan opgeleide personeel gered. Dié tekort het die eenheid in die twee jaar sedert sy ontstaan daarvan weerhou om ’n enkele vervolging voor ʼn hof te bring.

“Ons grootste uitdaging was tot dusver ’n gebrek aan vaardigheid en kapasiteit. Die wysigings beteken dat ons nou vrylik met personeel van die kommissie kan praat en mense wat die werk gedoen het en wat weet waar om te soek, vrylik kan betrek.”

Die DA het intussen dié wysigings verwelkom.

“Die bal is nou in die Valke en die NVG se hande om toegang tot die inligting en getuienisse voor die Zondo-kommissie te bekom en op te tree teen diegene wat betrokke was by die grootskaalse plundering van die staat,” meen adv. Glynnis Breytenbach, DA LP en voormalige senior staatsaanklaer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Dit is baie goeie nuus. Die onus is nou op die NVG om resultate spoedig te lewer. Kan nie wag om ‘n hele klomp senior ANC staatskapers in oranje oorpakke te sien. Sien is egter glo!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.