ZCC se groot Moria-byeenkoms opgeskort

Die ZCC se jaarlikse pelgrimstog na Moria in Limpopo is weens vrese oor die verspreiding van Covid-19 opgeskort. Duisende mense stroom jaarliks oor Paasfees daarheen. (Foto: Twitter)

Die Zion Christian Church (ZCC) het sy gebruiklike Paassaamtrek by Moria in Limpopo weens vrese oor die verspreiding van Covid-19 opgeskort. Dit is egter nog onduidelik of kleiner faksies binne die kerk dié besluit gaan steun.

Talle ander kerke in Suid-Afrika het vandeesweek reeds aangedui dat hulle alternatiewe reëlings tref om te midde van streng beperkings weens Covid-19 steeds hul lidmate te bereik. Dit sluit onder meer web-uitsendings in.

Een van die maatreëls wat pres. Cyril Ramaphosa vroeër afgekondig het rakende die bekamping van die virus, is dat enige byeenkoms met meer as 100 mense gekanselleer moet word.

Eerw. Emmanuel Motolla, woordvoerder van die kerk, het gesê ZCC-leier biskop Barnabas Lekganyane het Vrydag reeds besluit dat die jaarlikse gebedsbyeenkoms gekanselleer word.

Die kerk (met die ster as simbool) het die afgelope naweek eers al sy strukture van die besluit verwittig, voor ʼn amptelike aankondiging gedoen is, het Motolla gesê.

“Hulle moes nie die eerste keer daarvan in die media verneem nie,” het hy gesê.

Die kerkbestuur vergader weer dié naweek om lidmate verder oor die stand van sake in te lig.

Motolla het gesê weens die kerk se kommer oor die verspreiding van die nuwe koronavirus, het die leiers die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, genooi om kerkleiers op die hoogte te bring oor die uitwerking van die siekte, hoe die regering die kwessie hanteer en watter voorsorgmaatreëls getref word.

Die ZCC wou ook by die minister weet hoe die kerk kan help om die uitwerking van die pandemie te help verminder.

Duisende mense, ook van verskeie buurlande, stroom gebruiklik oor Paasnaweek na die kerk se hoofkantoor in Moria vir die jaarlikse Paassaamtrek.

Lekganyane het alle ZCC-lede gevra om saam te bid teen die verspreiding van die virus en het ʼn beroep gedoen op gewone burgers, geloofsgroepe en die owerhede om hul samewerking te gee om die pandemie te help stuit.

Kenny Mathivha, woordvoerder vir die premier van Limpopo, het intussen gesê Stanley Mathabatha vergader vanmiddag met die kleiner faksie van die ZCC. Dié faksie (wat ʼn duif as simbool gebruik) het nog nie aangedui of hy ook sy Paasbyeenkoms gaan opskort nie.

Daily Sun het intussen berig die omstrede KwaZulu-Natalse prediker biskop Bheki Ngcobo het aanbidders gevra om die regering se verbod te verontagsaam en steeds na Paasbyeenkomste te gaan.

In een stemboodskap vra Ngcobo mense om in groot getalle byeen te kom en te bid vir ʼn einde aan die virus. In nog ʼn boodskap vra hy gelowiges om met of sonder die regering se steun met voorbereidings vir Paasfees voort te gaan. “Die duiwel toets die kerk en ons mag die toets nie druip nie.”

Ngcobo het Dinsdag aan Daily Sun gesê kerkgangers is nie Ramaphosa se mense nie, maar God sʼn en dat die president geen reg het om hulle voor te sê oor hoe om te aanbid nie.

“Ramaphosa is nie God nie. Ons is God se leër, dus gaan ons na Paasbyeenkomste om die virus saam te beveg. Ons sal die pelgrimstogte gebruik om tot God te bid om die virus te stuit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hennie ·

Hulle moet net hulle geld stuur vir ou Barrabas, die hoof van die kerk, anders gaan hy nie sy luukse lewenstyl kan handhaaf nie!

Jaco ·

Dieselfde met ander kerke. My kerk het klaar per e-pos laat weet eredienste word opgeskort vir minstens 1 maand, MAAR daars ook ‘n GROOT versoek vir inbetalings in die kerk se bankrekening. Eks seker daarvan dat die volgende Bybeltekste toegeplak of uitgetippex is in meeste predikante se Bybels:
1 Timotheus 6: 10: Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels
Mattheus 19: 24: En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.

Faraway ·

Wat my bekommer is as mense die stellings maak dat jy jou landswette moet verontagsaam . . .
Gebruik tog jou logika , dis mos nie die massas wat saam bid wat gaan maak dat jou gebed beantwoord word nie maar die opregtheid en geloof wat daarmee saamgaan!

Sou n prediker se oproep ( in hierdie angswekkende tyd ) wat sê : ” gaan in jou binnekamer en sluit jou deur en roep tot GOD ” nie MEER tref krag hê as wat bogenoemde in artikel nou versoek nie?

antieke antie ·

is die saamtrek dieselfde as die trip mekka toe?… ek weet net dis elke jaar so groot optog… watse geloof is hulle?

Jaco ·

Hulle meng christelikheid met tradisionele Afrika godsdiens.

Roggeveld ·

Ja nee, hierdie jaarlikse byeenkoms subsidieer ‘n hele paar van die kerkleiers se ultra-luukse leefstyl. Kan verstaan dat sommige nie die byeenkoms wil kanselleer nie.

Michael ·

Ag nee dit is onregverdig die zcc sien elke jaar so uit na die byeenkoms gun hulle hul byeenkoms.

Niné ·

Ramapoza is nie God nie se Ngcobo. Nou wie dink hy is hy om God se leer in gevaar te stel? O wee die logika darem, daarvoor is nie pille nie.

Alta ·

Nee! Dit mag nie plaasvind nie!!!! Groot saamtrekke is taboe! Dit gaan net die pandemie vererger! Het die mense nie verstand nie?

Sarel ·

Liewe Magtig moet mense se kommentare altyd of sarkasties of negatief wees. Hoekom shutup jy met nie as jy niks goed kan sê nie. Maar dit is tog so lekkerrrrr om mense af te kraak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.