Zim-boer se maande lange tog eindig by SAOG

Ben Freeth, Zimbabwe, Mike Campbell-stigting, SAOG

Ben Freeth en sy hings, Tsedeq. (Foto: Mike Campbell-stigting)

ʼn Boer van Zimbabwe se tog van meer as 2 000 km, om bewustheid oor grondgrypery in Suider-Afrika te kweek, kom ná amper vier maande tot ʼn einde.

Ben Freeth was Vrydag onderweg na sy laaste kampplek voor Windhoek in Namibië, waar hy Maandag ʼn skriftelike versoek aan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) by die hoofkantoor wil indien.

Hy vra onder meer dat die SAOG sy tribunaal, ʼn hof met internasionale aansien in Suider-Afrika en in Windhoek gesetel, sal heropen en nuwe regters aanstel.

Volgens dr. Theo de Jager, verbonde aan die landbou-organisasie Saai, het Freeth op 28 November sy geskiedkundige tog aangepak vanaf die plaas in Zimbabwe wat eens aan hom behoort het.

Freeth het die rit oor Zimbabwe meestal te perd, maar soms ook met ʼn donkie aangepak.

De Jager het Vrydag met Freeth gepraat waar hy vir ʼn wyle onder ʼn brug skuiling teen die son gesoek het.

“Dit is ongelooflik warm waar hy nou is. Hy was op pad na die plaas waar hy vir die naweek sou kampeer en dan Maandag die laaste 17 km van sy tog aflê,” sê De Jager.

Freeth sal ingewag word deur burgerlike organisasies, verteenwoordigers van kultuurgemeenskappe, plaaslike boere, familielede en ondersteuners van sy veldtog. Volgens De Jager sal sommige ook te perd wees en by hom aansluit.

“Wanneer die groep in Windhoek aankom, sal dié uiteenlopende groep bondgenote wat hierdie geregtigheidsinisiatief ondersteun, na die historiese Turnhalle-gebou, die SAOG-setel, gaan om Freeth se memorandum gesamentlik te oorhandig.”

Die tribunaal het in November 2008 beslis die afgesette wit Zimbabwiese boere kan na hul plase terugkeer, maar hulle is steeds geteiken. Nadat die SAOG se tribunaal ten gunste van boere in Zimbabwe beslis het, is die tribunaal om duistere redes in 2012 ontbind, deur onder andere Robert Mugabe en Jacob Zuma, voormalige presidente van onderskeidelik Zimbabwe en Suid-Afrika.

In 2009 het AfriForum met sy regsverteenwoordiger, Willie Spies van Hurter Spies-prokureurs, die Suid-Afrikaanse regering hof toe geneem weens sy aandeel in die ontbinding van die tribunaal. Nadat die saak sy weg deur die laer howe gevind het, het die appèlhof in Mei 2022 in AfriForum se guns beslis.

Volgens Freeth het sowat 350 000 permanente plaaswerkers in daardie tyd hul werk en huise verloor.

In 2012 het die SAOG sowat nege slagoffers  uitbetaal wat deur die polisie en soldate gemartel is, maar ander SAOG-lede is uitgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.