Zulu gereed vir nuwe begin

Zulu by die Wetnose-dierereddingskuiling. (Foto: Facebook via @WetnoseARC)

Zulu, die perd wat verlede jaar vir dood langs ʼn grondpad oos van Pretoria gelos is en intussen die harte van talle Suid-Afrikaners gesteel het, is ná sy beproewing gereed om aangeneem te word.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn plaaslike inwoner van Cullinan die tien jaar oue perd verlede Junie in die gras langs ʼn grondpad in die gebied aangetref het. Dié inwoner het gesien hoe iemand vir Zulu van ʼn sleepwa af trek, hom langs die pad los en wegjaag.

Zulu het amper by die dood omgedraai, was dit nie vir die Wetnose-dierereddingskuiling in Bronkhorstspruit waar hy behandeling vir sy wonde ontvang het en omring is deur liefdevolle versorgers nie.

Meer as ses maande ná die voorval is Zulu uiteindelik gereed om sy “vir altyd”-tuiste te vind.

Kobus Nel, ʼn inspekteur van die Wetnose-dierereddingskuiling, vertel aan Maroela Media hoewel Zulu reg is hiervoor, het die trauma wat hy ondergaan het blywende gevolge. “Hy kan nie gewig dra nie, so mense kan nooit weer op hom ry nie. Hy het ook gewigsprobleme weens jare lange wanvoeding.”

Desondanks is Zulu gelukkig, gesond en sonder pyn.

Zulu soos hy langs die pad gevind is in 2019. (Foto: Facebook via @WetnoseARC)

Diegene wat Zulu wil aanneem, gaan egter eers deur ʼn lywige proses voordat hulle oorweeg word. “Daar is ʼn hele aannemingsproses en Zulu ondergaan dieselfde proses as enige ander perd. Ons doen baie moeite om te verseker dat hy ʼn goeie huis het. Zulu kan ook net as ʼn metgesel aangeneem word. Dit beteken hy kan aangeneem word om ʼn ander perd se maat te wees,” sê Nel.

Gelukkig is Zulu nogal gewild onder die ander perde by die skuiling en kom goed oor die weg met almal, vertel Nel. “Daar het ʼn merrietjie ingekom en dié twee het baie goed oor die weg gekom. Al die perde ken hom en hy hulle.”

Betreffende die paar wat Zulu aanvanklik vir dood gelos het, is daar nog niks meer te wete nie. “Daar is nog geen leidrade nie en daar is ook drie verskillende stories wat vertel word. Alles het net doodgeloop,” sê Nel.

“ʼn Mens wil hulle graag opspoor en laat boet vir wat hulle gedoen het, maar gelukkig is Zulu darem gehelp.”

Die Wetnose-dierereddingskuiling hoop dat Zulu ʼn tuiste vind waar hy goed versorg en geliefd is, bederf word, asook daagliks herinner word dat nie alle mense sleg is nie.

Vir navrae oor die aanneming van Zulu, nader gerus Nel per e-pos by [email protected] of telefonies by 082 677 8084.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Diertjie ·

Aaaaa!! Dis wonderlike nuus!!! Baie dankie wetnose vir julle liefde en omgee!!! Julle is net wonderlik!! Hoop hy kry n awsome forever home!! Vir die mense wat hom langs die pad afgelaai het….mag karma julle vir altyd jaag!!!

Suzette Geringer ·

Ek stem saam – Mag julle geseën wees Wetnose!!

Petra Boshoff ·

Ek glo in my hart daar is n spesiale plek in die HEL vir sulke mense.
Wat gaan aan met die samelewing???

Mieke ·

Die perd het nie “amper by die dood omgedraai “ nie. Die perd het inderdaad by die dood omgedraai!!

Linda ·

Ek kan nie verstaan waarom mense so iets aan n weerlose dier kan doen. Regtigwaar ons land raak al slegter en slegter !!! Wanneer eindig die dinge asook ontvoering van kinders, vroue en kinders wat dood geskiet word ???

Nettie ·

Ek wens die sogenaamde “mense” wat arme Zulu in die toestand wat hy was, net langs die pad afgelaai het, dieselfde lot toe. Mag julle, as julle eendag oud en siek is, nét so versaak word en weggegooi word deur julle familie en vriende.

Michael P ·

Vandat die ANC die land regeer het ons land in iets horrible verander

Sandy ·

Wetnose, kry ek nou trane in my oe. Ek is mal oor die positiewe houding wat julle nou het oor die twee (gemorse) mense wat hom net gelos het. Dink daaraan so, hy het in so ‘n awesome perd verander met die regte liefde, ondersteuning en voedsel wat julle vir hom gegee het. Dink net hoe ver hy sou kon kom as julle hom van ‘n klein ou babatjie af gekry het. Los daardie mense wat hom so sleg behandel het vir God om uit te sort. Ek hoop julle kry ‘n awesome huis vir hom, vol liefde en alles wat julle vir hom daar by Wetnose gegee het. Julle is ware kinders van God. Want dit se tog a society is judged by the way they treat their animals. Voorspoed met julle soektog.

Humor ·

Nou waarom sal sy naam Dan Nou Zulu wees?Wie verdink die naamgewer. Wat van Staal……….. van n perd

Tessa ·

Dankie so baie aan Wetnose…elkeen van julle is ñ engel???? met ñ goue hart..speaking for those who cannot speak.Mag julle geseēnd wees????

Julie Jansen van Rensburg ·

Wetnose is wonderlik – my jongste het ‘n Belgiese herdershond so vier jaar gelede by hulle aangeneem – Skyler was glo saam met ‘n klomp ander honde deur ‘n bende as veghonde opgelei en WETNOSE het – saam met die polisie – die bende vasgetrek en die honde gered. Skyler het lank geneem om mense te vertrou, maar vandag is sy ‘n pragtige dier wat altyd bietjie liefde soek. Al wat sy nou vrees is swaar weer – dogter vertel dat al is die lug skoon en Skyler begin onrustig raak en in haar spesiale “grot” wegkruip, is dit ‘n teken dat die weer gaan opsteek, al is dit ure later….

@Humor ·

Ek hoop sy nuwe eienaar gee vir hom ‘n nuwe naam want hy verdien beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.