‘Hoogste hof het g’n fout begaan’

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Jacob Zuma is nie minder nie as sewe keer die geleentheid gegun om aan die minagtingsaak teen hom deel te neem en het elke keer geweier. Die oudpresident het eerder verkies om met beledigings te reageer.

Só het adv. Tembeka Ngcukaitobi Maandag namens die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in die Konstitusionele Hof gesê.

“Meneer Zuma het nog altyd oor die sleutels van sy eie tronkdeur beskik,” meen Ngcukaitobi.

Zuma se verdediging vra in ’n aansoek dat die Konstitusionele Hof se besluit om Zuma se tronkstraf van 15 maande vir die minagting van ‘n hofbevel om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te getuig, herroep word.

Ngcukaitobi het vanmiddag in die hoogste hof aangevoer dat Zuma nie bereid is om sy straf te aanvaar nie en nie voor die Zondo-kommissie sal verskyn solank regter Raymond Zondo die voorsitter van die kommissie is nie.

Adv. Dali Mpofu het namens Zuma volgehou dat, hoewel sy kliënt nog steeds glo dat Zondo bevooroordeeld teenoor hom is, daar geen bewyse daarvan dat hy nie voor die kommissie kan verskyn nie.

Ngcukaitobi het voorts gesê Zuma het doelbewus geweier om nie aan die hofbevel gehoor te gee nie en dat daar niks fout is met die uitspraak deur die land se hoogste hof nie.

“Hoewel Zuma die minderheidsuitspraak verkies, beteken dit nie dat ’n fout in die meerderheidsuitspraak begaan is nie.”

Maroela Media het vroeër berig die land se hoogste hof het op 29 Junie in ʼn meerderheidsuitspraak bevind Zuma is skuldig aan minagting van ʼn vroeëre hofbevel dat hy voor die kommissie na staatskaping moet getuig. Hy is direkte tronkstraf opgelê.

Zuma maak nou in sy jongste aansoek staat op Reël 42, wat bepaal dat uitsprake en hofbevele herroep kan word, of daarvan afgewyk kan word, indien die betrokke party kan bewys dat dit gelewer is in die afwesigheid van die party, of ʼn ooglopende fout of weglating bevat.

Die Zuma-kamp voer aan dat die oudpresident sonder verhoor opgesluit is.

Zuma voer in sy aansoek onder meer aan dat die hof hoorsê-getuienis in ag geneem het, dat die kommissie verkeerdelik tronkstraf deur siviele prosesse gevra het, dat die bevel ongrondwetlik was en dus op ʼn fout neerkom en dat die hof Zuma nie anders moes behandel het nie.

Adv. Max du Plessis het ook namens die Helen Suzman-stigting, wat as vriend van die hof tydens die vorige verrigtinge toegelaat is, gesê die hoogste hof van die land het geen fout in sy uitspraak begaan nie.

Du Plessis het ook ontken dat dit in die belang van geregtigheid sou wees indien die konstitusionele hof sy minagtingsuitspraak teen Zuma herroep en aangevoer dat só ’n besluit “chaos” in die reg sal veroorsaak.

Adv. Vuyani Ngalwana van die Pan African Bar Association of South Africa het egter namens Democracy In Action in die hof gevra of dit in die belang van geregtigheid is om “’n byna 80-jarige man toe te sluit net omdat hy die hof met minagting behandel het”.

Regter Steven Arnold Majiedt het daarop gewys dat die oudpresident nie aan minagting van die hof skuldig bevind is weens die beledigings en dreigemente wat hy teenoor die Konstitusionele Hof gemaak het nie, maar bloot omdat hy versuim het om aan die hofbevel gehoor te gee.

Michelle le Roux het namens die Grondwet-waghondorganisasie Casac op haar beurt gesê Zuma se aansoek word fyn dopgehou en toets nie net die Grondwet nie maar ook die verbintenis tot die oppergesag van die reg veral wat die finaliteit van die gereg betref. “Almal wil weet of die hof van besluit gaan verander.”

Le Roux het voorts gesê die Konstitusionele Hof se besluit om Zuma se aansoek aan te hoor, het grootskaalse verwarring veroorsaak soos by die minister van polisie, Bheki Cele, wat in ’n stadium onseker was of Zuma steeds in hegtenis geneem moet word of nie.

Sy het ook daarop gewys dat sou die uitspraak herroep word, niks die Zondo-kommissie keer om ’n aansoek van sy eie te bring nie.

Uitspraak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Phillip ·

As hy vrei kom dan sal ek ook op die reel 42 beroep en ook die hof minag met geen respek vir die hof nie

Moedeloos ·

Hierdie gaan n groot toets wees vir SA se regstelsel. Dop hy hierdie een kan alle tronke oopgemaak word en howe maar toemaak.

Ansie ·

Natuurlik is dit in die belang van geregtigheid om Zuma toe te sluit vir minagting. As hy hiermee wegkom sal dit beslis ‘n verkeerde boodskap uitstuur.

Sêmanet ·

Daar is een klein foutjie…..die maande moes jare gewees het.

Danie ·

Ek sal 6 maande van my inkomste skenk aan n liefdadigheidsorganisasie indien die Konstitusionele Hof sy uitspraak hersien en die straf verleng met nog 15 maande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.