Zuma, MK kry uitstel in OVK-saak

Oudpresident Jacob Zuma (10 Maart 2024) (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Die Konstitusionele Hof het oudpres. Jacob Zuma en sy uMkhonto weSizwe (MK)-party uitstel tot volgende week gegee om te reageer op die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se appèlaansoek.

Die OVK het die grondwetlike hof direk genader nadat die kieshof vroeër vandeesmaand beslis het Zuma mag wel verkiesbaar gestel word in vanjaar se nasionale verkiesing. Die MKP het ʼn dringende aansoek by die kieshof ingedien ná die OVK aanvanklik beslis het Zuma mag weens sy misdaadrekord nie as kandidaat staan nie.

 

Nou het die OVK op sy beurt die Konstitusionele Hof op ʼn dringende grondslag genader.

Die OVK vra verlof om te appelleer teen die besluit en ʼn bevel dat Zuma aan ʼn misdaad skuldig bevind is en gevolglik nie bevoeg is om ʼn lid van die Nasionale Vergadering te wees nie. Dié bepaling geld tot vyf jaar sedert die voltrekking van sy vonnis verloop het.

In ʼn nuwe direktief het Sibusiso Mapossa, registrateur van die Konstitusionele Hof, Donderdag uitstel aan Zuma se regspan gegee. Hulle het nou tot Dinsdag om hul opponeringstukke in te dien.

Die respondente in die aansoek is die MKP, Zuma, Maroba Matsapola en Bethuel Terrence Nkosi.

Zuma is in 2021 op ʼn klag van minagting van die hof skuldig bevind en tot 15 maande gevangenisstraf gevonnis. In sy aansoek het sy regspan egter volgehou Zuma se vonnis kan hom nie diskwalifiseer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Bloot onverandwoordbaar en onaantasbaar. GEEN respek of agting vir die reg of prosesse nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.