Zuma se vonnis ʼn klug; ondermyning van die strafregstelsel

Oudpres. Jacob Zuma (Julie 2021) (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die feit dat die departement van korrektiewe dienste aangekondig het dat oudpres. Jacob Zuma sy vonnis van vyftien maande uitgedien het, is ʼn bewys dat die vonnis nog die hele tyd ’n klug was, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

“Dit is terselfdertyd ’n ondermyning van die land se strafregstelsel. Toe Zuma hom die eerste keer self gaan aanmeld het om met sy vonnis te begin, het ek gewaarsku dat daar absolute deursigtigheid moet wees met die vonnis om ’n herhaling van die Schabir Shaik-klugspel te voorkom. Dit is nou presies wat gebeur het.”

Groenewald neem die regering en die departement van justisie en korrektiewe dienste kwalik omdat hulle toegelaat het dat Zuma se vonnis op hierdie wyse verstryk het.

“Dit is baie duidelik dat hier voorkeurbehandeling vir Zuma as politikus en vorige president was. Dit skep ook ’n netelige presedent in Suid-Afrika en bevestig die probleem van straffeloosheid. Dit kom daarom neer dat Zuma sy straf vrygespring het ná sy optrede waar hy die wette van die land oortree het.”

Hy meen daar moet steeds seker gemaak word of Zuma in die eerste plek wel die reg gehad het om op parool vrygelaat te word. Die standpunt van die VF Plus is dat indien dit onwettig was, hy die res van sy vonnis moet uitdien.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen beklemtoon dat ’n hooggeregshofuitspraak gevind het dat die mediese parool, wat aan voormalige president Jacob Zuma toegestaan is, onwettig was. Uitspraak is in die hoogste hof van appèl voorbehou in die saak, wat nog hangend is.

“AfriForum vertrou dat die hof in ons guns gaan beslis dat Zuma se mediese parool onregmatig toegestaan is,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. “Dit is onaanvaarbaar dat Zuma voorkeurbehandeling ontvang het as gevolg van sy prominensie as politieke figuur. Wanneer ANC-hooggeplaastes nie aanspreeklik gehou word vir hul dade nie, stel dit ’n uiters gevaarlike presedent en lei dit tot ernstige magsmisbruike. Glibberige politici kan nie langer toegelaat word om agter die skerms toutjies te trek en sodoende die regstelsel te omseil nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Ramaphosa, hierdie madala kom vir jou.

Wakkerslaper ·

Ons howe en regstelsel is ‘n totale klug, en DIT is bitter kommerwekkend… maw die finale einde van ons. Hierdie kommunistiese terroriste regime gaan vir ons uitroei….

Frederik C ·

Hulle word al hoe meer en die geld al hoe minder. Ek dink hulle gaan hulself uitroei.

Pietertjie ·

En só sorg die kaders vir mekaar. Die res van die bevolking staan nie ‘n kans nie: daar gaan dadels van kom om geregtigheid te laat geskied. Dit het in die afgelope twintig jaar nie gebeur nie, en dit gaan ook nie in die volgende twintig jaar gebeur nie.

Papsak ·

Ek se ook by GOD gaan hy nie so maklik vry verby kom nie wys net weer hoe korrupt is hulle hy was nog nooi toe gesluit nie klomp gemors saam met anc gemors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.