Zuma amptelik weer ʼn vry man

Oudpres. Jacob Zuma tydens ‘n vroeëre hofverskyning in Pietermaritzburg. (Foto: Motshwari Mofokeng/ANA)

Oudpres. Jacob Zuma is amptelik weer ʼn vry man nadat die 15 maande tronkstraf wat aan hom opgelê is, Vrydag verstryk het. Dit ten spyte daarvan dat ʼn hof vroeër vanjaar bevind het Zuma se vrylating op mediese parool was onregmatig en dat hy moet teruggaan tronk toe.

Zuma het intussen nie weer die binnekant van ʼn tronk gesien nie.

“Die departement van korrektiewe dienste (DKD) kan bevestig dat die voormalige staatspresident Jacob Zuma uit korrektiewe dienste se stelsel vrygelaat is,” het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), Vrydag gesê.

Die Konstitusionele Hof het Zuma op 29 Junie verlede jaar tronkstraf vir minagting van die hof opgelê weens sy versuim om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te getuig. Hy het sy gevangenisstraf op 8 Julie verlede by die Estcourt-gevangenis begin uitdien.

Dit het tot ʼn vlaag gewelddadige oproere gelei wat uiteindelik meer as 300 sterftes veroorsaak en ekonomie skade van miljarde rand berokken het.

Volgens die DKD het Zuma vroeër voldoen aan die vereistes vir mediese parool en hy is op 5 September verlede jaar op mediese parool geplaas. In daardie stadium was hy volgens die DKD twee maande agter tralies.

“Alle administratiewe prosesse is nou afgehandel,” sê Nxumalo.

Zuma se vrylating op mediese parool is verlede jaar in die Pretoriase hooggeregshof deur die DA, die Helen Suzman-stigting en die burgerregtegroep AfriForum betwis. Regter Elias Matojane het bevind Zuma se vrylating was onregmatig en het die besluit ter syde gestel.

Die oudpresident en DKD het kort daarna aangekondig dat hulle teen die besluit gaan appelleer.

Uitspraak in die saak is in Augustus vanjaar in die appèlhof voorbehou. Die hof moet bepaal of die hooggeregshof se besluit – dat die oudpresident se vroeë vrylating op mediese parool inderdaad onregmatig was – die korrekte een was.

Die hof moet ook beslis of die gepaste stap dan is dat Zuma terugkeer tronk toe om die res van sy vonnis uit te dien.

Zuma sal na verwagting Maandag weer in die hof wees, juis weens besonderhede oor sy mediese toestand. Hy het met ʼn proses van private vervolging teen adv. Billy Downer, aanklaer in die staat se korrupsiesaak teen die oudpresident, en die News24-verslaggewer Karyn Maughan begin.

Zuma beskuldig hulle daarvan dat hulle vertroulike inligting oor sy mediese toestand uitgelap het.

Downer en Maughan het die hof gevra om Zuma se private vervolging van die hand te wys. Die aansoek word Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg aangehoor.

Dit is steeds onduidelik wat presies die mediese toestand is wat aanvanklik tot Zuma se vrylating op mediese parool gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

vuurvliegie ·

Los vir Zuma sodat hy die konflik vuur kan aansteek in die ANC.
Hy gaan die oorsaak wees dat die ANC finaal binnekort gaan skeur.

Althes ·

Hulle is ANC-Lite. Die verskil is net JM wil op die troon sit

Hendrik Marthinus ·

Vuurvliegie
Dit Kan nie en gaan nooit gebeur nie
Ons moet besef Dat ons seker onder 15% van die bevolking uitmaak. En Dan is die bietjie van ons nog verdeeld ook. Die ANC bevolking maak seker by die 80% van die bevolking uit.
Hoe dees aarde gaan die regerende party ooit nie die land regeer nie.
Ons bevolking van iets oor die 65 miljoen het 15% wit mense

Johan ·

Wat n klug mediese parool omdat hy so siek is hy makeer niks nie behalwe ou mense siektes soos jare aan gaan

Nettie ·

God haat ongeregtigheid. Die wraak kom God toe. Dit is ‘n baie erge ding om die Hande van die Lewendige God te beland. Mnr Zuma is nou in God se Hande. Ek sal vir hom bid, want daar is niks meer wat ons mense kan doen op hierdie stadium nie. Ons wou he hy moes sy skuld op die aardse bodem dra, maar hy het anders gekies. Hy gaan uitvind dit was ‘n baie, baie dom besluit.

Althes ·

Hy het hoeka ñ bespotting gemaak deur te sê die ANC sal regeer tot Jesus kom.

SwartBees ·

Onthou een ding, die anc nasie lewe vir nou. Wat later in hul lewe of na hul lewe gebeur is daai tyd se probleem.

Lourens ·

Hoe kon dit verstryk as dit nooit uitgedien is nie? En hoe kon hy vrygelaat wees as hy nooit daar was nie?
Ergste van alles is dat hierdie klomp cANCer narre hulleself glo . . .

Junior ·

Ek gaan ook by anc aansluit dan kry jy n ” get out of jail ” kaart saam

PieterJ ·

So asof hy ooit in die tronk was, en hy is nou sooo gesond van sy terminale siekte, hy kan selfs weer in politiek ingaan. Res sal ek eerder nie in publiek sê nie.

Kokerboom ·

Hy bly ‘n geslepe opportunistiese skurk en die regstelsel ‘n grap

gatgogga ·

Absoluut. As ons ‘n bevoegde, regverdige regstelsel gehad het, sou Zuma nooit kon wen nie.

007 ·

Dis die ondergang van die ANC. Dis eintlik baie goeie nuus. Hy is net die puppet van Ace hulle.

Cherokee ·

Ek is nie so seker dat ons dit as goeie nuus moet beskou nie. Daat is mi geen kans dat die DA sal oorneem nie. Moet nie net sê dat dit goed is nie. Raai dan sommer ook wie by hulle sal oorneem as hulle duik. Die daaropvolgende regering sal dan so sterk wees soos die Nasionale Party van destyds, wat die land gebring het waar dit is.
LOL, die destydse Natte stem nou vir die Progge…

Michael ·

Die KH kan geen mens vonnis nie. Sy vonnis deur die KH was onwettig daarom het niks met hom gebeur nie. Ramaphosa is die gevaar vir die land nie Zuma nie

Andrè ·

En kyk nou net hoe wonderbaarlik gaan hy van sy siekte genees wees

My siening ·

Vry man – skelm man – korupte man – en n publieke grap van die nasie!

Koos 100 ·

2 nagte in die tronk van jou keuse.
Doodelik siek.
Verontagsaming van ‘n hof bevel.
Stel homself op 80 beskikbaar vir politiek.
Goeie genade, as die Pous van hom uitvind, het hy werk gekry in Vatikaan Stad.

Aai ·

Die beste dokters moet na SA kom en studies hier kom doen dit moet dalk iets in die lug wees.Dit is die land met die meeste terminale ANC kaders wat nie dood gaan en net beter raak in hulle stokperdjies.

gatgogga ·

Ons moet in al ons kommentaar na hom verwys as “oud-gevangene Zuma”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.