Zuma staan nie Zondo se hofaansoek teë nie

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Oudpres. Jacob Zuma sal nie die staatskapingskommissie se aansoek in die Konstitusionele Hof, om hom te dwing om te getuig, teëstaan nie.

Zuma moet volgende jaar in Januarie en Februarie voor adjunkhoofregter Raymond Zondo verskyn om vrae te beantwoord oor staatskaping.

Zuma se prokureur, Eric Mabuza, het Maandag in ʼn brief aan die hof se waarnemende registrateur gesê sy kliënt het hom opdrag gegee dat hy nie aan die hofverrigtinge sal deelneem nie. Dit beteken dat die kommissie se aansoek nie teengestaan sal word nie, maar dit is nie ʼn waarborg dat die aansoek, wat die kommissie by die hof ingedien het, goedgekeur sal word nie.

Maroela Media het vroeër berig die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek, vra in sy aansoek by die Konstitusionele Hof onder meer dat Zuma nie mag weier om vrae te beantwoord nie wanneer hy volgende jaar vir twee weke weer voor die kommissie moet verskyn.

Die sekretaris van die kommissie, Itumeleng Mosala, het in ʼn beëdigde verklaring ter stawing van die aansoek wat Donderdag ingedien is, gesê dat Zuma die kommissie aangeval en gefrustreer het en dat sy gedrag die oppergesag van die reg ondermyn het.

Die hofaansoek volg kort nadat ʼn nuwe dagvaarding die vorige week aan Zuma beteken is en waarvolgens hy van 18 tot 22 Januarie en weer van 15 tot 19 Februarie voor die kommissie moet verskyn.

Die aansoek is ʼn poging – met die swaard van inhegtenisneming wat nou oor Zuma se kop hang – om ʼn herhaling van gebeure te verhoed toe Zuma sonder toestemming uit die sitting gestorm en net nie weer teruggekeer het nie. Dít ten spyte van die vroeëre dagvaarding wat hom gedwing het om te verskyn.

Zuma en adv. Muzi Sikhakhane is op 19 November vort sonder dat hulle deur adjunkhoofregter Raymond Zondo verskoon is, nadat hy hul aansoek dat hy hom aan die saak moet onttrek van die hand gewys het.

Sikhakhane het Zondo gewaarsku dat sy kliënt nie ʼn woord sou sê nie indien hy gedwing sou word om voor hom wat Zondo is te getuig.

Die kommissie wil Zuma dwing om elke dag om 10:00 op te daag om te getuig vir die volle tien dae wat hy veronderstel is om voor die kommissie te verskyn.

Die kommissie het hom tot die Konstitusionele Hof gewend ingevolge die Grondwet wat bepaal dat net die hoogste hof die mag het om te besluit of ʼn president aan sy wettige pligte uitvoering gegee het. Mosala voer aan dat die plig om aanspreeklik gehou te word vir sy termyn as president nie verval net omdat Zuma in 2018 die tuig neergelê het nie.

Die kommissie beroep hom ook op die Handves van Regte en sê die oudpresident het ʼn plig om die kommissie en die land in te lig of staatsgeld weens korrupsie verlore gegaan het.

Meer as 30 getuies het Zuma reeds by korrupsieskandale betrek.

Die kommissie het in sy aansoek gevra, gegewe die dringendheid van die saak, dat die oudpresident net vyf dae gegun word om aan te dui of hy die aansoek gaan teenstaan.

Mosala het die hof ook gevra om Zuma te beveel om die koste vir die aansoek te betaal.

Die saak sal na verwagting op 29 Desember aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie J ·

Hy het een of ander nuwe slinkse plan. Kom ons wag vir die fun & games as hy gedwing word om te verskyn en weier

Ria ·

Die feit dat hy nie sy skuldigbevinding betwis nie, is mos bewys dat alles waar is. Moenie vir my sê hy gaan skotvry kom nie

Die Wolf ·

Word nog steeds beskerm. Het te veel skietgoed wat ander saam sal laat sink.

Herman ·

Hy gaan dit nie tee staan nie. MMM, hy gaan glad nie opdaag nie. Soos gewoonlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.