SAID-kommissaris bedank

Oupa Magashula Foto: SARS Portraits

Oupa Magashula, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het bedank ná ‘n ondersoek oor bewerings van wangedrag, het die tesourie Vrydag aangekondig.

“Magashula het met onmiddellike effek bedank ná die uitslag van ‘n ondersoek oor dié bewerings bekend gemaak is,” het Pravin Gordhan, minister van finansies, gesê.

Gordhan het ‘n ondersoek van stapel gestuur ná bewerings dat Magashula ‘n pos by die SAID vir ‘n geoktrooieerde rekenmeester (GR) aangebied het. Die ondersoek is deur afgetrede regter Zak Yacoob en advokaat Muzi Sikhakhane gedoen.

Volgens mediaberigte in Maart vanjaar het Magashula glo die pos tydens ‘n telefoonoproep, wat opgeneem is, vir die GR aangebied. Timothy Marimuthu, wat glo invloed oor Magashula het, het glo die gesprek fasiliteer.

Gordhan sê die mediaberigte het vrae laat ontstaan oor die integriteit van personeelaanstellingsprosesse by die SAID en hy het Yacoob en Sikhakhane aangestel om ondersoek in te stel.

Die ondersoek het bevind dat Magashula:
– die reputasie en geloofwaardigheid van die SAID in gevaar gestel het;
– minder openlik was met die ondersoekkomitee as wat van ‘n persoon van sy statuur verwag sou word;
– veroorsaak het dat Gordhan ‘n verkeerde verklaring aan die publiek gemaak het oor die GR se CV wat nie na die SAID gestuur is nie. ‘n Onderhoud is wel met haar gereël, maar die GR het dit gekanselleer omdat sy eerder ‘n pos in Durban verkies het – ‘n versoek wat nie aan die SAID se vereistes voldoen nie;
– meer kontak met Marimuthu gehad het as wat hy aanvanklik aan die minister en die komitee erken het; en
– aan die minister en die komitee gesê het dat hy geen verdere kommunikasie met die GR gehad het nie, maar dit later aan die lig gekom het dat die GR vyf e-posse aan Magashula se e-posadres by die SAID gestuur het.

Bewerings van Marimuthu se invloed oor Magashula kan nie ondersoek word nie, aangesien Marimuthu nie positief op ‘n versoek vir ‘n onderhoud reageer het nie.

Die komitee het nie bewyse gevind dat Magashula ‘n misdaad gepleeg het nie. Hy het Dinsdag ‘n afskrif van die verslag ontvang. Hy het Woensdag aan Gordhan en Nlanhla Nene, adjunk minister van finansies, erken dat sy optrede daarop neerkom dat hy nie die hoë standaard van professionalisme en etiese gedrag bevorder en gehandhaaf het wat van ‘n kommissaris van die SAID verwag word nie.

Gordhan sê hy sal die SAID se ouditkomitee opdrag gee om ondersoek in te stel of Magashula se gedrag enige belastingprosesse oortree het. Hy sal ook ‘n komitee aanstel om die SAID se korporatiewe beheer en etiese standaarde te hersien, veral met betrekking tot die pos van die kommissaris.

Ivan Pillay, adjunk kommissaris, is as waarnemende kommissaris aangestel totdat ‘n nuwe hoof by die SAID aangewys is.

Klik hier om die volledige verslag te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.