Ses atletiek-direksielede geskors

Ses direksielede is van die raad vir Atletiek Suid-Afrika (ASA) geskors.

James Evans, die president van ASA, het Woensdag in ʼn verklaring gesê hulle is geskors tot uitspraak gelewer is van ‘n tugverhoor teen die lede.

Hendrick Ramaala, ASA se adjunk-president, ‘n voormalige elite marathonatleet, Shireen Noble, Esther Malema, Pieter Lourens, James Moloi en Qwadiso Ntathu staar ʼn dissiplinêre verhoor in die gesig.

Evans het verlede week ʼn dringende interdik in die Pretoriase hooggeregshof bekom om die ASA-direksielede te verhoed om verdere pogings uit te voer om hom uit sy amp te verwyder. Dit volg nadat sommige direksielede ʼn mosie van wantroue teen hom gestel het. Evans het aangevoer dat die lede nie die regte prosedures gevolg het nie.

“Sekere direksielede het voortgegaan met hul ongrondwetlike gedrag, wat uiteindelik die hofbevel oortree het,” het Evans gesê. “Die betrokke lede het belangrike besluite geneem sonder om dit na ander raadslede te verwys, soos verwag word deur die organisasie se beleid en prosedures.”

Tubby Reddy, die bestuurshoof van die Sport en Olimpiese-beheerliggaam Saskok, sê die saak sal Vrydag op ‘n raadsvergadering van Saskok bespreek word. Reddy sê Evans het nie die korrekte prosedures gevolg toe hy die lede geskors het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mariette Hammann ·

Haal die politiek uit die sport, dan sal dit baie beter gaan met ons sport!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.