
Kirsty Theologo het Vrydag aan haar beserings beswyk nadat sy en 'n vriendin tydens 'n beweerde satanistiese ritueel aan die brand gesteek is.
Een van meisies wat aan die brand gesteek is, het Vrydagoggend aan haar beserings beswyk. Kirsty Theologo (18) is omstreeks 4:00 Vrydagoggend dood. Sy het ernstige brandwonde opgedoen tydens die voorval. Die klag van poging tot moord teen die vier mans wat Theologo en haar vriendin na bewering aan die brand gesteek het, sal na ʼn klag van moord verander word. Intussen sal twee meisies moontlik ook Dinsdag in die hof verskyn nadat hulle vroeër in hegtenis geneem is in verband met die voorval. Die saak is vroeër uitgestel tot 1 November vir verdere ondersoek. Die vier mans is Lindon Wagner (21), Robin Harwood (18), Lester Moody (18) en Jeremy King (18). Die mans was glo deel van ʼn groep vriende wat voorverlede week in die koppies naby Rosetenville, suid van Johannesburg gesit en kuier het. Van die mans het glo later die aand Theologo en haar vriendin se hande vasgebind, brandstof oor hulle uitgegooi en hulle aan die brand gesteek.