Die sukkelende Sharks het Suid-Afrika en hul ondersteuners trots gemaak deur die Froce in Perth met 23-13 te klop en sodoende hul Australasiese toer op ‘n hoë noot af te sluit.
Die halftydtelling was 10-7 in die guns van die Force.
Dit was ‘n week van hoogdrama vir die Durbaniete met hul Kaptein, Keegan Daniel, wat sy mond oor Afrikaners in die span uitgespoel het – net om dit later te weg te praat. Dan sukkel ook met ‘n hele rits sleutelspelers wat op die krukkelys is.
Hierdie oorwinning oor een van die swakste spanne in die Super15 is straks ‘n slaak van verligting werd, maar volgende week wag die Bulls in Durban.
Nietemin het die Piesangboere twee drieë danksy Daniel en die heelagter, Riaan Viljoen, gedruk. Die koelkop-losskakel Pat Lambie het beide verdoelskoppe oorgeklits en was ook in die kol met drie strafskoppe. Dit was ‘n wedstryd van twee helftes vir die Sharks met die eerste een wat eerder vergeet wil word en die tweede een wat die deurslag vir hul oorwinning gegee het.
Daarenteen kon die Force slegs een drie deur die senter Kyle Godwin druk en die heelagter, Jayden Hayward, het dit verdoel en met twee strafskoppe geslaag.
Die Sharks is nou 10de op die algehele punteleer en derde in die SA konferensie.