Skadevergoeding vir Bloem-ouers tien jaar ná baba in hospitaal sterf

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Meer as ʼn dekade nadat ʼn ouerpaar van die Vrystaat hul pasgebore eerstelingseuntjie verloor het, moet die departement van gesondheid nou skadevergoeding van meer as R5 miljoen aan hulle betaal.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het kort voor Kersfees bevind dat die Pelonomi-streekshospitaal, ook in die hoofstad, nalatig was en aanspreeklik gehou moet word.

Waarnemende regter NG Gusha het in haar uitspraak op 19 Desember bevind die Vrystaatse departement van gesondheid moet skadevergoeding van meer as R5 miljoen aan die ouers betaal.

In haar uitspraak sê sy: “Daar is inderdaad geen groter liefde en seën as om nuwe lewe in hierdie wêreld te bring en daardie lewe te koester en lief te hê nie. Weliswaar is moederskap nie altyd maklik nie, dit is ʼn pad wat dikwels gevul is met onder meer liefde, lag, pyn en al die ander swaarkry van die lewe.”

Dié vreugde begin die oomblik as ʼn toekomstige ma besef sy is swanger. “Die vreugde en liefde groei [vir haar ongebore baba] tot die oomblik wanneer sy geboorte skenk en haar kind in die wêreld verwelkom.”

Maar dié moeder, wat by tye ontroosbaar gehuil terwyl sy getuienis in die hof moes lewer, is van al die vreugde en liefde ontneem, sê Gusha.

“Weens die erkende nalatigheid van die departement [van gesondheid] se werknemers het die ouers se seun twee dae ná sy geboorte gesterf.”

In haar getuienis het die ma emosioneel vertel hoe sy haar seuntjie slegs vir ʼn paar oomblikke in haar arms kon hou voordat hy weggeneem is. Dit sou die laaste keer wees wat sy haar eersgeborene lewend gesien het. Haar seuntjie is dood terwyl sy oorgeplaas is na ʼn volgende hospitaal en daar verder behandel is.

Die departement het nie die ouers se eis teengestaan nie, en het ook nie in hul eie verweer getuig nie.

Die ma het skadevergoeding van sowat R9,6 miljoen geëis terwyl die pa R700 000 geëis het.

As gevolg van die ma se behandeling in die Pelonomi-hospitaal het sy vir drie jaar aan swaar bloeding gely. Sy het ook depressief geword, gereeld paniekaanvalle gekry en antisosiaal begin optree.

Die ma het ook getuig dat sy twee keer haar eie lewe probeer neem het.

Op 2 Augustus 2013 het die swanger ma na haar plaaslike kliniek gegaan waar daar bevind is haar bloeddruk is hoog. Sy is na Pelonomi-hospitaal verwys, waar sy gehoor het sy is in kraam.

Ten spyte hiervan is sy aan haar eie lot, sonder enige mediese toesig oorgelaat.

Die volgende middag is sy geïnduseer en voorberei vir ʼn nood keisersnee. Tog is sy nie toe al na ʼn teater geneem nie. Haar seuntjie het later deur middel van ʼn normale geboorte in die lewe gekom nadat personeel ʼn chirurgiese insnyding moes maak.

Kort hierna is haar seuntjie weggeneem. Hy het breinskade opgedoen en is twee dae later dood.

Die pa is ook nie die geleentheid gegee om sy kind te sien nie, aangesien hy toe al sy aandag op die ma se behandeling moes vestig.

Sy is ná die geboorte sonder toesig gelaat en het bloeiend op ʼn draagbaar in een van die hospitaalgange gelê.

Haar man het getuig die lakens waarop sy gelê het, was met haar bloed deurdrenk. Hy het weerstand van die hospitaal se veiligheidswagte gekry toe hy om hulp geroep het.

Sy vrou is uiteindelik na ʼn teater geneem vir behandeling en het eers later in die Universitas Akademiese-hospitaal in Bloemfontein bygekom.

Sy is eers op 19 Augustus ontslaan, dae ná haar seun se begrafnis.

In haar uitspraak het Gusha gesê om na die moeder se getuienis te luister een van die moeilikste en pynlikste ervarings in haar loopbaan was.

“Om nie daardeur [die getuienis] geraak te word nie sou ʼn mens iemand sonder enige menslike emosies moes wees. Geen mens moet ooit die behandeling kry waaraan sy [die ma] onderwerp is nie.”

Gusha het beveel dat skadevergoeding van R5,1 miljoen aan die ma en R400 000 aan die pa betaal moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.