“Sondagverkragter” het glo patroon gevolg

Steyn tydens sy verskyning op 13 Desember in die Krugersdorp streekshof. Foto: Werner Beukes/SAPA

Daar was ʼn duidelike patroon in die aanvalle van die sogenaamde “Sondagverkragter”, het die ondersoekbeampte Maandag in die in die hooggeregshof, wat in die Palm Ridge-landdroshof in Thokoza aan die Oos-Rand sit, getuig.

Ao. Peet du Toit, ondersoekbeampte, het getuig dat al die meisies in residensiële areas ontvoer is waarna hul na beboste gebiede geneem en verkrag is. Die areas waar die meisies verkrag is, was op pad na die Wes-Rand waar die beskuldigde Johannes Jacobus Steyn woon. Du Toit het getuig dat hy ʼn identikit opgestel het nadat ʼn meisie in Oktober 2010 ontvoer en seksueel aangerand is in Potchefstroom. Steyn se werkgewer, Dennis Burger, het vroeër getuig dat hy verskeie van die werk se voertuie gebruik het insluitend ʼn wit Toyota Hilux bakkie. Hy het ook ʼn wit Pajero en wit Isuzu bakkie besit. Die vermeende slagoffers het die onderskeie motors geïdentifiseer. ʼn Agtste beweerde slagoffer van die “Sondagverkragter” het gister getuig hoe sy amper in November 2008 deur ʼn man in ʼn bakkie ontvoer is. Die 15-jarige meisie het verduidelik hoe sy, haar ouma en haar 4-jarige broer na ʼn winkel in Rustenburg gestap het toe ʼn wit bakkie langs hulle gestop het. ʼn Man met ʼn hoed en sonbrille het haar gevra wat haar naam is voor hy ʼn vuurwapen op haar ouma gerig het. Sy sê die man het haar aan haar arm in die bakkie probeer intrek. “Hy het gelyk die deur probeer toemaak en wegtrek. Ek het die deur geskop. Dis toe dat ek uitgeval het.” Die saak duur voort.

Steyn (35) staan tereg op twee aanklagte van moord, 11 aanklagte van verkragting, 10 aanklagte van seksuele aanranding, een van poging tot seksuele aanranding, 10 aanklagte van ontvoering, een van poging tot onvoering en twee aanklagte van aanranding. Steyn word aangekla van die moord op Louise De Waal en Lazanne Farmer. De Waal is in Oktober verlede jaar ontvoer terwyl sy en ‘n vriendin op pad skool toe was in Randburg. Steyn het hom die volgende dag by die Margate-polisiestasie in KwaZulu-Natal oorgegee. Farmer en ’n 16-jarige vriendin is Sondag 5 September 2010 in Elandspoort in die weste van Pretoria ontvoer. Farmer het uit die ontvoerder se bakkie na haar dood gespring. Haar vriendin is glo hierna in ’n beboste gebied verkrag. Steyn se jongste slagoffers was glo twee 11-jariges. Die “Sondagverkragter” word verbind met verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp en Potchefstroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.