Swanger breindooie vrou se masjiene moet afgesit word

Erick by 'n foto van sy vrou en ouer seun wat 15 maande oud was toe sy breindood verklaar is. Foto: globalnews.ca

Erick by ‘n foto van sy vrou en ouer seun wat 15 maande oud was toe sy breindood verklaar is. Foto: globalnews.ca

‘n Amerikaanse regter van Fortt Worth in Texas, het beveel dat die lewensondersteunende apparaat van ‘n swanger breindooie vrou ontkoppel word, soos deur die familie versoek.

Die vrou was 14 weke swanger toe sy op 26 November weens breinbloeding inmekaar gesak het. Die hospitaal waarin sy opgeneem is, hou haar aan ‘n ventilator gekoppel omdat hulle meen hulle word daartoe deur ‘n wet van Texas verplig. Dié wet bepaal dat ‘n terminaal siek pasiënt se lewe nie beëindig mag word as sy swanger is nie.

Erick Muñoz voer egter aan dat sy vrou, Marlise nie terminaal siek is nie, maar reeds op 26 November oorlede is. Hy word deur Marlise se familie in die hofaansoek bygestaan. Hulle voer aan dat hulle afsluiting wil kry.

Erick se regspan verwys in die hofdokumente na hom as ‘n wewenaar, en meen die hospitaal maak hulle onder meer lykskending skuldig. Hulle voer aan dat hulle nie weet hoe lank die ongebore baba sonder suurstof moes klaarkom voor die ma op die ventilator geplaas is nie. In ‘n nuwe wending voer die familie aan dat toetse toon dat die ongebore baba breinabnormaliteite het, en veral in haar onderlyf vermink is. Bewyse is hiervoor Vrydag ingedien, en die regspan sê die onderlyfie is só misvorm dat dit nie eens moontlik is om die geslag te bepaal nie.

Die dokters meen hulle sal eers op tussen 24 tot 26 weke swangerskap oor die lewensvatbaarheid van die ongebore baba kan beslis, terwyl die swangerskap nou 22 weke oud is.

Die geval val tussen die krakies van Amerikaanse aborsiewetgewing deur. Tot op 24 weke swangerskap het die ma alleen seggenskap oor of sy ‘n aborsie wil ondergaan of nie. Die anti-aborsiegevoel in Texas loop sterk, en dié groepe het hul gewig by die hospitaal ingewerp.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

alta ·

Dit verstom my dat Maroela Media alewig besig is om te plagieer. Ek weet nie of julle besef dat julle erkenning moet gee aan die bronne wat julle gebruik het nie? Of, het die Herman self Amerika toe gebel en met almal gepraat en self die inligting ingesamel? Ek twyfel want dit gebeur ook telkens dat julle Sapa net vertaal sonder om erkenning te gee aan die nuusbron. As julle nie self kwaliteit joernalistiek wil beoefen nie, gee minstens erkenning aan die mense en nuusorganisasies wat doen.

Herman ·

Hallo Alta
Ek het voor ek geantwoord het, gaan loer na definisies van plagiaat. Tot dusver het ek, as ek een bron gebruik, daardie bron aangedui. Dit raak moeiliker as ‘n mens, soos in hierdie geval, ‘n storie oor tyd deur ‘n groot verskeidenheid bronne volg wat almal die inligting in die openbare domein plaas. In hierdie geval is bv verskeie uitgawes van die CSM, die Los Angeles Times, Trouw en De Standaard, asook van die webwerwe van teen-aborsiegroepe en ander instansies gebruik gemaak.
Kortom, ek maak juis van ‘n veelheid bronne (indien beskikbaar) gebruik om te voorkom dat dit plagiaat is. Ek probeer ook bronne in verskillende take raadpleeg, bv Duits, Nederlands en Engels, en wanneer dit nie anders kan nie, Nordiese tale en Spaans.
Wanneer ek in ‘n oorsese bron ‘n berig raakloop wat handel oor die uitslag van ‘n nuwe indeks wat bekend gemaak is (bv die korrupsie-persepsie-indeks), gaan ek na die oorspronklike bron terug. Soms is dit ‘n mediaverklaring, maar soms ‘n baie tegniese verslag, en soms in die vierde taal wat ek my mee kan behelp. Dan word my eie storie opgestel, deur bv SA se posisie op vorige indekse te vergelyk.
Ek plaas ook skakels na hierdie indeks, en selfs die vakartikels.
Trouens, omdat dit elektronies gepubliseer word, plaas ek dikwels skakels na die oorspronklike bronne.
Die beskuldiging van plagiaat word te maklik ingespan, ook in gevalle wat regstegnies eerder roofjoernalistiek as plagiaat. Verder word ook te maklik plagiaat beweer as die nuusmedium die inligting heel wettig bekom het, deur dit te koop, bv by Sapa.
Veral radiostasies dui selde hul bron per berig aan. As ek bv RSG se Sterre en Planete ruimtenuus opstel, dui ek op die geskrewe teks wat ook na ‘n adreslys van belangstellendes aangestuur word, die bronne aan (deur skakels). Belangstellendes kan dan die oorspronklike artikels, dikwels in vaktydskrifte, gaan lees. Daardie dele word eter nie oor die lug gelees nie. Ook hier probeer ek meer as een bron gebruik, of minstens Nasa, die Europese Ruimte-agentskap, die SA Ruimteagentskap of so se mediaverklarings raadpleeg.
Ek sal nie maklik ooorsee bel om inligting te bekom nie, maar ek stuur daagliks ‘n groot vrag e-posse dwars oor die wêreld na oorspronklike bronne. Die terugvoer uit sommige lnde (bv Duitsland) is laag, maar uit bv is die terugvoer heelwat beter as om by SA-instansies te gaan kers opsteek. Ek wou bv verlede jaar ‘n artikel skryf oor die weervooruitsigte, en nie ‘n enkele navraag na enige weerkundige is beantwoord nie. Veral uit die VSA kry ek byna voor die voet uitstekende terugvoer – gewoonlik rig ek my navraag saans, en as ek die rekenaar die volgende oggend vyfuur aanskakel, wag die antwoord.
As ‘n mens self, soos ek, plaaslike en oorsese instansies se mediaverklarings ontvang, is dit nogal opvallend hoe dikwels selfs gerekende koerante daardie mediaverklarings feitlik woordeliks, en soms woordeliks, plaas, sonder om die bron aan te dui. Heel dikwels, onbewus daarvan dat dit eintlik ‘n mediaverklaring is, sit die sub nog die joernalis wat dit geknip en -plak het, se naam as byline by.
Let gerus op die gebruik met koerante se middelbladartikels, waar die outeur gewoonlik sy ron aandui as hy sy storie om ‘n enkele bron bou. Maar wanneer hy duidelik ‘n groot verskeidenheid bronne gebruik, aangevul uit kennis wat hy selfs reeds gehad het (uit ander bronne wat hy nie eens kan onthou nie), word bronne baie selde genoem. Min of meer geld hoofartikels.
Nietemin, om nie hare te kloof nie onderneem ek om voortaan deurlopend al die bronne aan die einde aan te dui. Herman

Susan Lombaard ·

Dagsê Alta

Maroela Media is 100% in lyn met wat deur kopieregwetgewing in hierdie verband voorgeskryf word. Ons is tans besig om in samewerking met die prokureursmaatskappy Spoor&Fisher ‘n kopieregbeleid saam te stel wat op Maroela Media gepubliseer sal word, en wat sal uiteensit wat die beleid is waaraan alle joernaliste van Maroela Media moet voldoen, en waaraan ons inderdaad reeds voldoen.

Die internet het die media-omgewing totaal verander na ‘n plek waar alle mediabronne voortbou op mekaar se stories en inligting, en waar inligting op die internet geredelik en gratis beskikbaar is. Daar is geen kopiereg op inligting en feite nie – dit beteken indien ‘n mens inligting of ‘n feit iewers opspoor en dit in jou eie storie gebruik, en jou eie inligting bywerk, of inligting vanaf verskeie bronne saam verwerk in een storie, is jy heeltemal binne jou regte. Dis ook algemene praktyk om dit so te doen. Herman Toerien spesifiek is uitstekend daarmee om navorsing te doen oor wat regoor die wêreld aan ‘t gebeur is en dit saam te vat in goeie nuusstories met nuwe invalshoeke. Waar moontlik plaas hy skakels in sy artikels na die oorspronklike bronne (iets wat nie eers deur kopieregwetgewing vereis word nie). Daar is geen rede vir hom om Amerika toe te bel en inligting telefonies te kry wat vrylik en gratis op die internet beskikbaar is nie.

In die geval van Sapa is ons ook 100% binne ons reg. Ons kontrak met Sapa spesifiseer dat ons hulle nuus, waarvoor ons betaal, kan gebruik, en dat Sapa as bron van die inligting aangedui moet word. Hierdie riglyn volg ons suiwer. Ons gaan dikwels ‘n stap verder en noem ook die nuusbron waar Sapa oorspronklik die inligting gekry het, met ‘n skakel daarheen, terwyl ons kontrak met Sapa sowel as wetgewing nie van ons vereis om dit te doen nie.

Ek voeg graag by dat ander nuusbronne baie dikwels inligting wat oorspronklik op Maroela gepubliseer is, en wat deur vertroulike bronne aan ons verskaf is, gebruik in hul eie stories, meestal sonder om aan Maroela Media erkenning te gee daarvoor. Hierdie praktyk is deel van die veranderende media-omgewing waar media-instansies inligting wat vryelik beskikbaar is op die internet, gebruik en daarop voortbou om ‘n groter, meer volledige prentjie van gebeure te skep.

Wees rustig daaroor dat ons in voeling is met die praktyk van die joernalistiek, en dat ons ten volle op hoogte is van wat die wetlike aspekte asook die etiese aspekte hiervan is.

Groetnis, Susan Lombaard (Bestuurder: Maroela Media)

Eugenie ·

Hierdie is ‘n hartseer saak. Ek dink daar moet gehoor gegee word aan die man en familie se versoek. Dis onmenslik, gesien in die lig dat die ongebore babatjie ook nog ernstig gestrem is.

Justi ·

Goeie middag Alta. Persoonlik geniet ek Maroela se nuus baie. Sou jy nie daarvan hou om dit te lees nie staan dit jou vry om te stop.

Ek twyfel oof Maroela iets sal doen wat nie reg is nie.

Dit is n hartseer saak, n moeilike keuse gewees glo ek. Strekte aan die man en die vrou se familie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.