Talle bekendes positief vir Covid-19 ná glansgeleentheid

Colin Farrell en Brendan Gleeson. (Foto: Instagram/The Golden Globes)

Hollywood-bekendes gaan dalk binnekort weer na hul ontwerpersmaskers moet gryp.

’n Aantal akteurs, onder wie Colin Farrell, Brendan Gleeson, Jamie Lee Curtis en Michelle Pfeiffer, het aangekondig dat hulle positief vir Covid-19 getoets het ná verskynings by vanjaar se Golden Globes-toekenningsgeleentheid.

Hulle moes gevolglik noodgedwonge vanjaar se Critics’ Choice Awards, wat op 15 Januarie plaasgevind het, misloop.

Curtis se mede-akteurs in die nuwe film Everything Everywhere All at Once het by dié geleentheid vyf toekennings ingeoes, onder meer die beeldjie vir beste film.

Jamie Lee Curtis tydens die Golden Globes. (Foto: Instagram/Jamie Lee Curtis)

Curtis het ook haar gevoelens op Instagram uitgespreek en gesê: “Ongelukkig gaan hierdie hoofondersteuner glad nie by dié naweekfeeste haar vriende en kollegas kan aanmoedig nie. Lewe volgens lewensvoorwaardes.”

Pfeiffer het ook op Instagram geskryf dat sy hartseer was om dié geleentheid mis te loop. Sy sou na verwagting die toekenning vir lewenslange bydrae aan akteur Jeff Bridges oorhandig het.

Hoewel daar nie presies bepaal kan word waar of hoe dié bekendes die virus opgedoen het nie, is Covid-19-veiligheidsmaatreëls tot dusver inkonsekwent tydens vanjaar se toekenningsgeleenthede toegepas, aldus die Hollywood Reporter.

Hoewel gaste nie verplig was om maskers tydens vanjaar se Golden Globes te dra nie, is negatiewe Covid-19-toetse of inentingsertifikate luidens die BBC wel by dié geleentheid vereis.

Dit is nie bekend of dié bekendes positief vir die nuwe Covid-19-subvariant, bekend as XBB.1.5, getoets het nie, hoewel studies aandui dat dié variant tans die oorheersende een in die VSA is.

Voormalige Oscar-wenner Jessica Chastain was egter een van die min bekendes wat tydens vanjaar se Golden Globes ʼn masker gedra het. Sy het ook na afloop van die geleentheid negatief vir Covid-19 getoets.

Chastain se besluit het gemengde reaksies op sosiale media ontlok, maar die aktrise – wat binnekort op die verhoog in ʼn Broadway-produksie te sien gaan wees – het haar besluit op die rooi tapyt aan E! News haar verdedig. “Ek is skrikkerig vir siek word. Jy moet so versigtig wees in die teater en ek wil nie my mede-akteurs in die steek laat nie.”

Bronne: BBC, Washington Post, E! News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Henri ·

Hoeveel is hospitaal toe en hoeveel is dood. Dít is nuuswaardig, nie mense wat verkoue opgedoen het nie.

Deon ·

Wie gee om, kan julle nie oor iets anders skryf as covid nie, ons is al lankal oor dit

George ·

Gaan oor by China en Japan, dan sal jy weet wat lockdown is, SA was LIG op covid. Onthou net dies wat dood is daaraan, toe julle almal so gese het ons moet saam bid.

Hennie Biebouw ·

Dit klink vir my al te veel na nog ‘n substandaard Hollywood draaiboek. Die data en navorsing waaroor ons na drie jaar se C10 manipulasie beskik, dui daarop dat die inperkings en dra van gewone lap maskers bykans geen effek gehad het op die verspreiding en sterftetal van C19 nie. Stanford-universiteit en Johns Hopkins -universiteit om maar twee te noem, het geruime tyd terug reeds hul navorsing gepubliseer.

Miss J ·

Ag shame, hou op toets vir die bangmaak taktiek. Moeg vir dieselfde storie al vir 3 jaar

George ·

Net omdat SA nie meer omgee nie, beteken nie ander lande is dieselfde nie, gaan vra China, Japan, Oz ens.

Koos 100 ·

En hoeveel mense was daar wat nie positief getoets het nie? Net die een wat ‘n masker gedra het????

annie ·

Is dit nou ‘n nuwe manier om die soeklig te vang? Dié mense glo werklik sonder hulle sal die son nie opkom nie.

Anna84 ·

Chastain lyk soos ‘n spinnekopweb met haar uitrusting :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.