Bly ‘waaksaam maar kalm’ oor nuwe Covid-variant

Die departement van gesondheid het mense gevra om kalm maar waaksaam oor die nuwe variant te bly. (Argieffoto: Maroela Media)

Die departement van gesondheid sê hy is nog besig om inligting oor ʼn pasiënt by wie die nuwe Covid-19-subvariant, bekend as XBB.1.5, geïdentifiseer is, in te samel.

Die nuwe variant is einde Desember vir die eerste keer in Suid-Afrika deur navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) bevestig.

Prof. Tulio de Oliveira, ʼn professor in bio-informatika aan die US, het vandeesweek gesê daar was tot dusver egter nog geen toename in gevalle, hospitaalopnames of sterftes weens die nuwe variant nie.

Die Netwerk vir Genomikawaarneming in Suid-Afrika het sy waarneming daaroor wel verskerp.

Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê volgens navorsers by die universiteit is nog net een geval in Suid-Afrika bevestig.

“Hoewel daar hoë vlakke van bevolkingsimmuniteit in Suid-Afrika is, doen ons ʼn beroep op mense om waaksaam maar kalm te bly. Die situasie is onder beheer.

“Ons prioriteit is om te verseker dat mense ingeënt word en steeds nie-farmaseutiese ingrypings handhaaf,” sê Mohale.

Die XBB.1.5-geval is in die Wes-Kaap aangemeld. “Dit is nie ʼn verrassing nie, gegewe die getal internasionale toeriste [wat daarheen reis],” het De Oliveira gesê.

Volgens hom bly die voorkoms daarvan steeds laag en hy stem saam met Mohale dat Suid-Afrika “goeie bevolkingsimmuniteit het”.

Die variant is tans die oorheersende een in die VSA en is reeds in 28 lande aangemeld. XBB.1.5 is ʼn afstammeling van die XBB-subvariant, wat ʼn kruising tussen twee vroeëre stamme van die koronavirus is. Bloomberg berig die XBB-variant het reeds verskeie vlae infeksies in lande soos Singapoer en Indië tot gevolg gehad sedert die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in Oktober verlede jaar die eerste keer sy kommer daaroor te kenne gegee het.

Teen die begin van Desember was XBB.1.5 verantwoordelik vir 1% van Covid-gevalle, maar skattings van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) wys dit het teen die einde van die maand toegeneem om die oorheersende stam in die VSA te word. Dit is nou verantwoordelik vir sowat 41% van alle infeksies.

Dr. Maria van Kerkhove, ʼn epidemioloog en die WGO se tegniese leier vir Covid-19, het die variant die afgelope week bestempel as die “mees oordraagbare subvariant” wat sedert die uitbreking van die pandemie waargeneem is.

Die variant het onder sommige wetenskaplikes die bynaam “kraken-variant” gekry weens sy vermoë om te versprei, maar tot dusver was daar geen beduidende verskille in die erns van gevalle wat veroorsaak is deur XBB.1.5 en ander variante nie.

XBB.1.5 is skaars in die meeste wêrelddele, maar Tom Wenseleers, ʼn evolusionêre bioloog by KU Leuven in België, het aan die New York Times gesê hy verwag dat dit vinnig en wêreldwyd gaan versprei.

“Ons gaan waarskynlik nog ʼn infeksievlaag ondervind,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nici ·

Ons is kalm. Ons hoop net die regering bly kalm. Ek sal verbaas wees as daar nog ‘n mens is wat bang gepraat kan word na al die nonsens wat ons deur is die laaste jare. What must be must be, solank die regering ons uitlos sal als ok wees.

Drikus ·

Maskers werk nie om ‘n virus te stop nie .. ek hoop nie dit word weer ingestel nie .. Eish

Henri ·

Die uitval rondom die voorkoming van COVID is enorm en is meer skadelik as die virus self. Waarom word daar nog in die nuus aan COVID aandag gegee, siende dat die hospitalisering feitlik zero is.

Boksombende ·

Hoekom op deesaarde praat ons nog enigsins oor COVID?

Saartjievandiebosveld ·

Ek stuur my nie meer aan COVID nie….
Ek leef my lewe….het COVID gekry….Al was ek ingeënt…het in die hospitaal Gaan draai…het dit oorleef….niks keer dat jy COVID kry…..so ek leef my lewe voluit….!!!!

ENFM ·

“Suid-Afrika het goeie bevolkingsimmuniteit… Ons prioriteit is om te verseker dat mense ingeënt word..”
En 2+2=5 (George Orwell – 1984)

Wendy ·

Die variant is reeds verlde jaar al voorspel??? Hou tog op om mense te dwing ASB !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.