Taxi-bestuurder beboet omdat hy verkeersbeampte wou omkoop

ʼn Taxi-bestuurder is Donderdag deur die Gespesialiseerde Misdaadhof in Bellville, Kaapstad, met R1 000 of drie maande tronkstraf beboet nadat hy probeer het om ʼn verkeersbeampte om te koop.

Nkululeko Fatusi (31) van Delft op die Cape Flats is ook met R3 000 of ses maande tronkstraf beboet wat op voorwaarde vir twee jaar opgeskort is. Verkeersbeampte Nomfundo Nkomo het hom afgetrek nadat hy glo in Oktober verlede jaar oor ʼn rooi lig gery het. Fatusi het egter sy bestuuderslisensie by die huis vergeet. Toe Nkomo agterkom dat Nkomo besig is om ʼn boete vir dié twee oortredings uit te skryf, het hy ʼn R100 aan die verkeersbeampte oorhandig. Luidens die klagstaat het Nkomo die omkoopgeld aanvaar en hom in hegtenis geneem. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae