ʼn Tiener in Gauteng is Dinsdag geskiet en gewond nadat hy glo sy pa se vuurwapen gesteel het en ʼn winkel wou beroof.
Ao. Kay Makhubela, ʼn polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die 17-jarige is deur sekuriteitswagte raakgeskiet nadat hy glo ʼn winkel in Molapo, Soweto, wou beroof. “Ons vermoed die seun het sy pa se vuurwapen gesteel,” het Makhubela gesê. “Die seun is onder polisiebewaking by die Chris Baragwanath-hospitaal en sal in die Protea-landdroshof verskyn sodra hy ontslaan word.”
Die seun word aangekla van besigheidsroof en diefstal van ʼn vuurwapen. Die pa mag moontlik aangekla word van nalatigheid van ʼn vuurwapen.