Reddingswerkers het op die liggame van twee onwettige mynwerkers afgekom na hulle Dinsdagoggend in ʼn diamantmyn naby Kleinzee in die Noordkaap vasgeval het.
Volgens kaptein Cherelle Ehlers, ʼn polisiewoordvoerder, is 16 mense nog ondergronds vasgevang. Reddingswerkers weet nie of hulle nog lewe nie.
“ʼn Nasionale reddingspan is van Bloemfontein op pad om te help,” het sy Woensdag aan Maroela Media gesê.
Altesaam 19 onwettige mynwerkers het Dinsdag in die Bontekou-myn vasgeval na ʼn tonnel van die myn, wat in April toegemaak het, omstreeks 03:00 ineengestort het. Volgens Ehlers het die mans onwettig vir diamante gemyn.
Een myner is Dinsdagmiddag gered.“Die persoon word vir skok en ligte beserings behandel,” het Ehlers gesê.