Verspeelde kanse kniehalter Bokke

Conor Murray en sy spanmaats vier Ierland se oorwinning op die Stade de France. (Foto: Julien de Rosa/AFP)

As ʼn telenovela-draaiboekskrywer ooit ʼn reeks met die naam “Verspeelde Kanse” sou neerpen, kan hy sekerlik ʼn paar Springbok-spelers nadertrek om die hoofrolle te vertolk.

Want die Suid-Afrikaners het vanaand op die Stade de France ʼn paar geleenthede deur hul vingers laat glip om punte teen Ierland aan te teken.

ʼn Skewe lynstaangooi op die Iere se doellyn hier en vier verbroude stelskoppogings daar het tot die Bok-konsternasie bygedra.

Op die ou einde het die wêreld se voorste rugbyspan die verdedigende wêreldkampioen met 13 – 8 in ʼn belangrike Wêreldbeker-groepwedstryd geklop.

Die uitslag beteken dat Suid-Afrika waarskynlik teen die gasheerland Frankryk in die kwarteindstryd van die internasionale rugbyskouspel moet speel.

Maar tussendeur die punte-deur-vingers-laat-glip-oomblikke was daar darem ook ’n paar hoogtepunte.

Die Springbok-span was vanaand gelaai met voorspelers, maar hulle het weliswaar met tye gesukkel om hul stempel ordentlik op die wedstryd af te druk. Hulle het wel die lewe nag vir die Iere in die lynstane gemaak.

Ronan Kelleher het gespook en gespartel om gewillige Ierse hande in die lynstane te vind en die Bokke het gereeld balbesit op dié manier afgerokkel.

Tog kon die Iere daarin slaag om dinge by die afbreekpunte vir Suid-Afrika te bemoeilik en ná 40 minute se spel het hulle ʼn voorsprong van 7 – 3 geniet.

Die Bomb Squad-spelers het darem in die tweede helfte ’n paar skrumstrafskoppe bewerkstellig, terwyl Damian Willemse gereeld met sy dartellopies beïndruk het.

Maar Ierland het sy geleenthede benut om punte aan te teken, terwyl Suid-Afrika se sukkelende skopkelkie-vertoning beslis nie die span se wedstrydwen-ambisie ʼn hupstoot gegee het nie.

Libbok het met twee stelskoppogings skeefgekorrel, terwyl Faf de Klerk se radar ook nie heeltemal ingestel was nie.

Dalk sou dit soms ʼn beter besluit gewees het om eerder die kantlyn op te soek as om gereeld pale toe te skop; die Iere het immers gesukkel om doeltreffend in die lynstane te rank.

Die Bokke het darem al vantevore die Webb Ellis-trofee omhoog gehou nadat hulle ʼn groepfasewedstryd verloor het. Dinge gaan vorentoe egter nie veel maliker word nie.

  • Puntemakers:

Ierland: Drie: Mack Hansen. Doelskop: Johnny Sexton. Strafskoppe: Sexton en Jack Crowley.

Suid-Afrika: Drie: Cheslin Kolbe. Strafskop: Manie Libbok.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Alke simpatie met Libbok . Hy kan dalks maar net nie groot druk hanteer nie . Maar vir wêreldbeker wedstryde moet beter besluite geneem word deur die breier.

SjN ·

Die Bokke is by die afbreekpunte geklop en verkeerde besluite is geneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.