Vryhede waaroor Afrikaners nou wakker geskrik het

2011 was omtrent ʼn onstuimige jaar, maar ʼn uiters interessante een. Eers tref ʼn aardbewing en tsoenami Japan en veroorsaak groot sake aan daardie land se infrastruktuur en ekonomie en die lewensverlies het groot afmetings aangeneem. Die donker ekonomiese wolk oor die wêreld het in baie opsigte ook vererger. Opstande in Europa volg op aankondigings dat sosiale besteding gesny gaan word. Die Amerikaners skiet Osama bin Laden dood en slaan sodoende ʼn slag teen terreur. Die grootste gebeurtenis van hierdie jaar is sekerlik die Arabiese Lente en die betekenis wat dit vir die wêreld inhou. Ronald Reagan het eenkeer opgemerk:

“Freedom is never more than one generation away from extinction. We didn’t pass it to our children in the bloodstream. It must be fought for, protected, and handed on for them to do the same.”

Dit is presies wat die bevolkings van Egipte, Tunisië en Libië gedoen het. En dit is presies die soort woorde waarop Afrikaners vir baie lank nié ag geslaan het nie. Maar die gety het begin draai . . .

Terwyl mense in Europa sukkel met ernstige ekonomiese vraagstukke en Europese politici uitgestem is en die ampsdraers baie angsvallig is oor hul posisie in die saal, het mense in ander wêrelddele die eenvoudigste regte begin opeis wat hul vir dekades ontsê is. Hoewel ek self nog baie skepties is oor die sosiale stabiliteit en standvastigheid van demokrasie in die Midde-Ooste, het hierdie patroon nietemin ʼn sterk sein aan toekomstige outokrate uitgestuur dat hulle in hul demokratiese spoor moet trap indien hulle die septer wil swaai in hierdie lande. Met bevolkings waarvan meer as helfte onder die ouderdom van 15 is, sal daar rewolusie wees totdat politieke asook ekonomiese hervorming plaasgevind het. Die eenvoudige les uit hierdie gebeurtenis is dat regerings en politici met te veel mag en wat nie deur die burgers en hul instellings in toom gehou word nie, hul mag en posisies gaan uitbuit tot hul eie voordeel.

Soos wat daar ʼn sprankel van hoop vir die demokrasie in die Midde-Ooste deurgeskyn het, het die demokratiese ruimtes in Suid-Afrika in 2011 nouer begin word. Die Zuma-administrasie het die grondwetlike hof gekaap deur ʼn onbevoegde vertroueling as hoofregter aan te stel, voer wetsontwerpe deur wat die media wil muilband sover dit korrupsie betref en die president raak toenemend Machiavellisties soos sy voorganger om net polities te oorleef. Insgelyks is die ideaal van die Marxistiese Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) nagestreef met moontlike groter staatsinmenging in die mynsektor, regstellende aksie wat voortleef, onbekwame en korrupte kaders wat steeds ontplooi word in strategiese posisies in die staat en opruiende wekroepe deur onder meer die gewese ANC-Jeugleier Julius Malema oor minderhede.

Maar Jan Smuts se befaamde woorde dat die “ergste nooit in Suid-Afrika gebeur nie en die beste ook nie” bly waar. Maar hierdie toedrag van sake val nie in die land se skoot nie. Daar word immers doelbewuste keuses deur sleutelrolspelers geneem om die verloop van gebeure in ʼn ander rigting te druk. So het Afrikaners begin besef hulle hoef nie vir ewig die slaansak van die land te wees oor die verlede nie. Nes die Russiese minderhede in Georgië en ander lande in Eurasië, die Tsutsi’s in Rwanda en die Serwiërs in Kosowo bepaalde politieke en kulturele regte het, het Afrikaners dit ook… en begin dit toenemend besef.

Die Afrikaner sal nie weer die land as die enigste groep regeer nie, dit moet besef word en ek stem heelhuids met NP van Wyk Louw saam dat vryheid slegs in geregtigheid bekom en behou kan word. Ons leef in ʼn land met sekerlik die grootste variasie van mense wat almal ewe veel reg het om hier te lewe. En terwyl Suid-Afrika grootliks ʼn “stemdemokrasie” geword het met die kosmetiese uiting van openbare wil deur middel van verkiesings en minder dag-tot-dag regte soos minderheidsbeskerming en die nakoming van Grondwetlike verpligtinge deur die staat, geniet ons steeds tonne kulturele vryhede wat bloot ontgin moet word. Afrikaners het begin besef ons wag vergeefs op ʼn onbeholpe regering om sy pligte na te kom en ons te beskerm en in 2011 het ons dit nou self doen. En sodoende die weg vir ander minderhede en Suid-Afrikaners gebaan om hul regte op te eis. Wie sou in 1994 of beter nog, in 1989, gedink het die Afrikaner, tot toe die muishond van die wêreld, sou hierdie leidende rol speel?

Die eerste en beste voorbeeld is sekerlik AfriForum se oorwinning in die haatspraak-saak teen Malema. Terwyl sekerlik meeste mense in die land skepties en selfs openlik vyandig was teen hierdie saak (menigte Afrikaners inkluis), het AfriForum deurgedruk en die saak gewen. En dis als met behulp van skenkings deur Afrikaners moontlik gemaak. Die ANC het geappelleer, maar Malema is polities so dood soos ʼn mossie nadat hy uit sy eie party geskors is en sy “skiet die Boer”-liedjie is nog steeds verban. Ongeag wat die ANC, Adriaan Basson en ander kritici sê, is hierdie tans die regswerklikheid en sal so bly totdat ʼn hof anders besluit. Finish en klaar.

Die tweede voorbeeld van kulturele vryheid is dat Afrikaners nie in sak en as gaan sit het oor regstellende aksie en diskriminasie nie. Ons het nie fatalisties geraak nie want in 2012 kan ons uitsien na die aanvang van die bou van ʼn Afrikaanse universiteit in Pretoria wat saam met ʼn bestaande tegniese kollege genaamd Sol-Tech Afrikaanse studente van alle rasse gaan oplei in hul moedertaal om die ekonomie met goeie vaardighede te betree. Die regering kan dit hoegenaamd nie keer nie en dit is ʼn groot vorm van onafhanklikheid.

Daarbenewens het Afrikaners hulself in gemeenskappe begin organiseer om dienste te lewer waar ʼn toenemend verswakkende staat in sy plig misluk het. Helaas is konsepte soos federalisme en selfbeskikking grootliks uitgesluit uit, of vaag uiteengesit in, die Grondwet. Maar niks keer gemeenskappe om iets vir hulself te doen nie en dit raak toenemend ʼn noodsaaklikheid dat hulle vir hulself sorg. Die blote rede is dat die staatsmasjinerie in Afrika, en selfs in Suid-Afrika, net nie oor die kapasiteit beskik om na behore dienste te lewer nie.

Dan staan die groot Afrikaanse skole nog sterk, is daar ʼn opbloei in die Afrikaanse media en trek kultuurfeeste elke jaar groter getalle besoekers. Ek kyk Maandagaand ʼn program op kykNET oor Coenie de Villiers se lewe. Hy maak toe melding van die feit dat Afrikaanse musiek so laat as die laat-70’s eintlik as vreemd beskou is en glad nie gewild was nie, selfs by Afrikaners self. Ek was stomgeslaan omdat dit voor my tyd was en ek nie regtig geweet het wat die geskiedenis van Afrikaanse musiek was nie. Maar vergelyk dit met 2011 en die kontras raak selfs meer treffend: Daar is Afrikaanse top 20-afdelings in musiekwinkels en sommige van die algehele beste verkopers is Afrikaanse kunstenaars.

Terwyl groot dele van Europa hul ekonomiese vryheid verloor het en noustrop trek en die Midde-Ooste streef na groter demokratisering, het Afrikaners hul kulturele vryheid in ʼn toenemend ondemokratiese Suid-Afrika op ʼn wettige en onafhanklike wyse begin bewerkstellig. En dit als sonder ʼn oorwinning by die stembus.

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

John BRandow ·

In die geheel gesien glad nie n sletge artikel nie. Soms negatiewe sentimente maar oor die algemeen kan n vrydenkende Suid Afrikaner homself daarmee vereenselwig –

Theo Prinse ·

Die as viering van 100 jaar ANC spekulasie op ‘n stalinistisch gewelddadige regime word reeds oorskadu deur die bewussyn dat die karaktervolle kompleksiteit wat Suidelike Afrika altyd was en sal bly lynregte in teenstelling met die ANC utopie soos sy (NDR BEEAA) Hierdie leuens dien slegs die groot-kapitaal opzoek nagoedkoper lone.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.