Wat hou rentekoers so hoog?

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Freepik)

Met die prima rentekoers tans op 11,75% en die repokoers op 8,25% wag talle huiseienaars en verbruikers gretig op ʼn rentekoersverlaging.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff Property Group, meen die rentekoers is al “té lank, té hoog” en dat die ekonomie en eiendomsmark negatief geraak is deur die voortgesette hoë koers. Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het onlangs te kenne gegee dat die koersverlagingsiklus vertraag gaan word, aangesien inflasie hardnekkig hoog bly.

Volgens die jongste syfers staan inflasie nou op 5,3%.

Seeff sê dit skep rede tot hoop dat die rentekoers binnekort kan begin daal.

“Die eiendomsmark is negatief geraak deur die hoë rentekoers, veral in die middelmark en laer prysklasse,” sê Seeff.

Die huidige prima rentekoers is byna 1,75% hoër as in 2020, voor die Covid-19-pandemie uitgebreek het. Dit maak dit moeiliker vir mense om eiendom te bekostig omdat verbruikers ook reeds steier onder stygende lewenskoste en salarisse wat stadig groei.

Transaksievolumes by die aktekantoor was verlede jaar byna 20% laer in vergelyking met 2022. Die randwaarde is in die algemeen sowat 14% laer.

Dis egter nie net Suid-Afrika wat worstel met hoë rentekoerse nie. Markte soos die Verenigde Koninkryk, Europa en die VSA sukkel almal met hoër rentekoerse weens geo-politieke druk. In teenstelling met die algemene verwagting, het die Amerikaanse Fed onlangs te kenne gegee dat hy ook nog nie rentekoerse gaan verlaag nie.

Wat raak rentekoerse in Suid-Afrika?

Daar word gewoonlik na twee rentekoerse verwys: repo en prima. Die Reserwebank bepaal die rentekoers deur die repokoers vas te stel. Dít is die koers waarteen die Reserwebank geld aan Suid-Afrikaanse banke leen.

Die banke leen op hul beurt geld aan verbruikers teen die prima rentekoers, dikwels teen ʼn bykomende premie na gelang van die soort lening en risiko. Langtermynskuld, soos huislenings, het gewoonlik ʼn laer premie in vergelyking met korttermynskuld soos oortrokke rekeninge, kredietkaarte en kleinhandelwinkelrekeninge.

Die laagste rentekoersvlak oor die afgelope 30 jaar was 7% in Julie 2020 tydens die Covid-19-pandemie. Dit het 14 maande lank op daardie vlak gebly voordat dit weer begin klim het. Die lae rentekoers het eiendomsverkope tot die hoogste vlakke sedert 2007-’08 opgestoot wat volume en pryse betref. Die rentekoers het laat in 1998 tot 24,5% gestyg en was in die 2000’s gemiddeld sowat 12%.

Volgens die Reserwebank is sy mandaat om die waarde van die Rand te beskerm in die belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei. Dit gebruik die rentekoers om die vlak van inflasie te beïnvloed. Die bank se inflasieteikenband is tussen 3% en 6%. Hoe hoër die inflasie, hoe hoër sal die rentekoers waarskynlik bly.

Die repokoers word vasgestel deur die Monetêre Beleidskomitee van die Reserwebank wat elke tweede maand vergader om verskeie faktore te evalueer en dan te besluit of daar ʼn verhoging of  verlaging in die rentekoers moet wees, en of die koers dieselfde gehou moet word. Die bank kan egter te eniger tyd intree met ʼn rentekoersaanpassing, soos tydens die Covid-19-pandemie die geval was.

Sodra enige rentekoersaanpassing deur die Reserwebank aangekondig is, sal die verskillende banke en finansiële instellings hul prima koers dienooreenkomstig aanpas en kliënte inlig oor hoe dit hul skuldterugbetalings sal beïnvloed.

Die huidige kwessie met rentekoerse is dat inflasie sedert middel verlede jaar geleidelik toegeneem het. In daardie stadium het dit verlaag tot 4,7% (binne die Reserwebank se teikenband) en daarna gestyg tot 5,6% in Februarie (naby die bank se boonste teikenband).

Seeff sê die feit dat dit in Maart weer tot 5,3% gedaal het, bied ʼn mate van verligting.

Volgens Seeff bied die hoë inflasiekoers ʼn werklike uitdaging aan die bank.

“Die bekommernis is dat die hoër koers meer kwaad as goed gedoen het en gegewe die ekonomie wat vasgeval het, glo ons dit is ʼn verspeelde kans om nie die koers as ʼn ekonomiese hupstoot te verlaag nie,” sê Seeff.

“Terwyl ons wag vir die volgende rentekoersaankondiging teen einde Mei, gaan die eiendomsmark soos gewoonlik met sake voort.”

Die marktoestande tel steeds in kopers se guns en daar is goeie waarde te vind. Daar is ook heelwat gewillige verkopers.

“ʼn Rentekoersverlaging sal ongetwyfeld ʼn sterk hupstoot wees vir die volgende oplewing in die mark,” sê Seeff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dieter ·

Ekndinkmons is almal volwasse genoeg om te benefits daat ons n rat voor die oë gedraai word, en dat inflasiekoerse en rentekoerse sentences hoog gehounword tot voordeel van die besigheids industrieë, tot nadeel van janalleman

koos10 ·

My antwoord op die vraag in die opskrif is eenvoudig, en ek vra ‘n teen vraag. Waar gaan die ekstra geld heen waarvoor die verbruiker betaal? Reguit Reserwebank toe. Die selfde bank wat se hoof direk deur die president aangestel word, aka kaderontplooiing. Dieselde bank wat aan die minister van finansies, nog ‘n kader, verslag moet doen, en dieselfde minister wat in sy begrooting aangekondig het dat hy miljarde rande by die bank gaan vat om sy begrooting te laat klop. Die ANC begrooting wat miljarde rande weggee elke maand vir sowat 50% van alle SA burgers. Hoekom bly rentekoerse so hoog? Want die regering het die geld nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.