Die polisie van die Vrystaat het Vrydag gesê niemand is nog in hegtenis geneem vir die moord op Tony Texeira nie.
Texeira is verlede Donderdag tydens ‘n huisroof in Welkom ontvoer en later dood aangetref. Maroela Media het Woensdagaand berig Texeira se liggaam is in ‘n ontbinde toestand in Saaiplaasweg deur ‘n sekuriteitswag van ‘n myn naby Virginia opgespoor. Hy is in die kop geskiet en sy bene en arms was vasgebind.
Texeira en sy verloofde, Ilona Combrink, is deur vier onbekende mans ontvoer wat hom verlede week Donderdagoggend van elektroniese ware, kontant en sy Soyat-bakkie beroof het. Die rowers het hom glo ontvoer as losprys vir die regte pinkodes vir die bankkaarte. Combrink is vasgebind en met ʼn kombers toegegooi. Sy kon loskom toe die rowers vlug en het hulp ontbied. Texeira was ‘n diabeet en daar was vir sy lewe gevrees omdat hy elke ses ure insulien-inspuitings moes kry.
Die vier verdagtes is steeds op vrye voet. Mense met inligting oor waar die verdagtes hulle mag bevind, kan die ondersoekbeamptes van die Welkom-polisiestasie by 082 372 0423 skakel.