11-jarige kampioen sterf tydens bierdrink-kompetisie

Argieffoto (Foto: Colin Behrens/Pixabay)

ʼn 11-jarige seun het gesterf in die laaste rondte van ʼn bierdrink-kompetisie in Malawi, het plaaslike media Maandag berig.

Volgens ʼn berig deur die nuuswebwerf Malawi24 is die seun, ʼn kranige drinker, dood ná hy vyf bottels kachasu gedrink het by ʼn bierdrink-kompetisie in Mzimba in die noordelike deel van die land.

Kachasu is ʼn onwettige tradisionele gedistilleerde drankie wat hoofsaaklik in landelike en arm stedelike gebiede gedrink word.

Die seun het die eindrondte van die kompetisie gehaal toe hy inmekaargesak het, het sy vriende aan Malawi24 gesê.

Die wenner van die kompetisie ontvang 20 000 Malawiese kwacha (sowat R444).

Daar is kategorieë vir persone jonger as 14, jonger as 21 en vir senior persone.

ʼn Ooggetuie het aan Malawi24 gesê hulle vermoed vuilspel in die seun se dood, omdat hy die verdedigende kampioen was. “Hy was nie net ʼn amateur drinker nie,” het die ooggetuie, Emmanuel Chirwa, gesê.

Volgens hom betaal deelnemers ʼn toegangsfooi van MK1 000 (sowat R22) om aan die kompetisie deel te neem. Daar word van almal vereis om iets te eet voor hulle aan die kompetisie deelneem. “Hy is dus nie dood omdat hy nie iets geëet het voor die kompetisie nie. Hulle het almal iets geëet. Iets het skeefgeloop,” het Chirwa bygevoeg.

Die kinderbeskermingsbeampte vir die gebied, Shanks Nkhata, het gesê hy stel ondersoek in en sal met tradisionele leiers in gesprek tree om die brou van onwettige bier te verbied.

“Ons hoor die kind was in st. 7 by Kafulufulu Primary School en omdat skole tans weens Covid-19 gesluit is, het hy in ʼn drinker ontaard,” het Nkhata glo aan Malawi24 gesê. Hy is bewus van soortgelyke ander gevalle.

Bierdrink-kompetisies is algemeen in dele van Malawi.

The Nation-koerant het verlede jaar in Junie berig ʼn 34-jarige man is dood tydens ʼn bierdrink-kompetisie in die Chikwawa-distrik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Fae Fubar ·

Slaan my om met ‘n veertjie! Hoe op dees aarde het jy nogal ‘n kategorie vir kinder-deelnemers? Skandelik.

Niklaas ·

Sy lewer sou in elk geval binnekort opgepak het. Jong seun reeds in st 7 in primere skool. Klink raar vir my

Miskruier ·

As n mens toetentaal verlore grootword. Soos alle Afrika regerings, hopeloos korrup en geen plan om sy volk op te hef nie. Ons beweeg terug na die middel-eeue.

QueenB ·

Omdat skole gesluit is het hy gedrink agge nee swak verskoning dus die groot mense wat daar betrokke was skuld…dus belaglik

Leon ·

Iets geët! Ag twak. Vyf bottels van n gedisteleerde brousel (dws BAIE meer alkohol as bier) spel vir my dodelike alkoholvergiftiging…….iets geëet of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.