13-jarige gryp in toe busbestuurder flou word

Dillon Reeves (13) het ‘n skoolbus vol kinders veilig tot stilstand gebring. (Foto: Facebook / Jonathan Lafferty)

ʼn 13-jarige Amerikaanse seun word as ʼn held geloof nadat hy ʼn skoolbus vol kinders veilig tot stilstand gebring het nadat die busbestuurder haar bewussyn verloor het.

Die voorval het Woensdag in Michigan plaasgevind.

Robert Livernois, superintendent van Michigan se skooldistrik, sê Dillon Reeves het uit sy sitplek opgespring en die stuurwiel gegryp toe die busbestuurder flou geword het. Hy het die bus in die middel van die pad tot stilstand gebring deur die handrem op te trek.

Altesaam 70 kinders van die Lois E Carter Middle School in Warren was op die bus toe die voorval plaasgevind het. Die voorval is ook op video vasgevang en deur owerhede vrygestel.

In die agtergrond kan gehoor word hoe kinders skree terwyl Dillon beheer oor die stuurwiel neem en na iemand uitroep om die 911-nooddiensnommer te bel.

Op die video kan ook gesien en gehoor word hoe die busbestuurder oor haar radio sê dat sy duiselig voel en eerder gaan stilhou. Sy het egter haar bewussyn verloor voordat sy die bus tot stilstand kon bring.

“Die Stad Warren is baie trots op ons gr. 7-held Dillon Reeves,” het stadsraadslid Jonathan Lafferty op Facebook geskryf.

“Die jong man het dadelik ingegryp toe sy skool se busbestuurder ʼn mediese noodgeval ervaar het. Hy het die bus tot stilstand gebring en moontlik ʼn baie tragiese ongeluk vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.