22 Amerikaanse soldate beseer in heli-ongeluk in Sirië

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Altesame 22 Amerikaanse soldate is die afgelope naweek in Sirië beseer in ʼn helikopter-ongeluk in dié land. Die voorval hou klaarblyklik nie verband met enige optrede van vyandige magte nie en geen aanval is op die helikopter geloods nie.

Die VSA se sentrale bevelsraad (Centcom) het Dinsdag gesê die voorval het in die noordooste van die land plaasgevind. Die betrokke soldate het matige tot ernstige beserings opgedoen.

“Die soldate ontvang behandeling vir hul beserings en tien van hulle is reeds na ʼn hoësorgfasiliteit oorgeplaas,” lui ʼn verklaring van Centcom.

“Die oorsaak van die voorval word ondersoek.”

Die VSA het sowat 1 000 troepe in Sirië as deel van internasionale pogings om djihadiste se bedrywighede te bekamp. Die soldate doen van tyd tot tyd aanvalle wat op die Islamitiese Staat (IS) geteiken is.

Sommige van die VSA se basisse in die land is die afgelope jaar herhaaldelik geteiken en IS het vir sommige daarvan verantwoordelikheid aanvaar.

Vroeër vanjaar het die VSA lugaanvalle op groepe met Iranse bande in Sirië gedoen nadat ʼn Amerikaanse kontrakteur in ʼn hommeltuig-aanval op ʼn VSA-geleide koalisiebasis naby die stad Hasakeh in die noordooste van Sirië dood is.

In daardie stadium het die Siriese waarnemingsentrum vir menseregte wat die oorlog monitor,gesê minstens 19 mense is in die Amerikaanse lugaanvalle dood.

Die konflik in Sirië het reeds sowat ʼn halfmiljoen lewens geëis sedert dit in 2011 met ʼn wrede aanslag op teenregeringsbetogers begin het. Dit het sedertdien ontaard in ʼn ingewikkelde oorlogsone waarby buitelandse weermagte, milisiegroepe en djihadiste betrokke is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jason ·

Sirie is die middelpunt van die islamtiese staat wereld wyd. Hulle is verantwoordelik vir die meerderheid van die IS se aanvalle en “calliphate” reg oor die wereld soos die in egipte, die DRC en selfs die sogenoemde central african province in mozambiek
En amerika is nie die enigste land daar nie selfs europese en noordelike afrika magte is betrokke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.