41 sterf in Kaïro toe kerk brand

Skade aan die Abu Sifin-kerk in Imbaba (14 Augustus 2022) (Foto: Khaled Desouki/AFP)

Minstens 41 mense is dood toe ʼn brand Sondag in ʼn Koptiese Christelike Kerk in ʼn werkersklasdistrik van Kaïro uitgebreek het.

Die brand word toegeskryf aan ʼn elektriese fout en het in die Abu Sifin-kerk in die digbevolkte Imbaba, wes van die Nylrivier, uitgebreek.

Ooggetuies beskryf angsbevange tonele waar mense vasgekeer geraak het toe die hitte en rook hulle oorweldig het.

“Almal het kinders uit die gebou gedra,” sê Ahmed Reda Baioumy, wat langs die kerk woon. “Maar die brand het al groter geword en mens kon slegs een keer ingaan, anders sou jy versmoor.”

Die Egiptiese Koptiese Kerk en die ministerie van gesondheid het gesê minstens 41 mense is dood en 14 beseer voor nooddienste die brand onder beheer kon bring.

Pres. Abdel Fattah al-Sisi het op sy Facebook-blad gesê hy het alle staatsdienste gemobiliseer om seker te maak alle maatreëls word getref.

Hy het later gesê hy het sy meegevoel telefonies betuig met pous Tawadros II, die hoof van die Koptiese Ortodokse Kerk sedert 2012.

Die Giza-goewerneur het “dringende hulp” van 50 000 Egiptiese pond (sowat R42 000) vir die families van die oorledenes en 10 000 pond vir die beseerdes beveel.

Die ministerie van binnelandse sake het gesê forensiese bewyse het onthul dat die brand in ʼn lugversorgingseenheid op die tweede verdieping van die gebou uitgebreek het.

Farid Fahmy van ʼn nabygeleë kerk in Imbaba het aan AFP gesê die brand is deur ʼn kortsluiting veroorsaak.

“Daar was nie elektrisiteit nie en hulle het ʼn kragopwekker gebruik. Toe die krag weer aangekom het, het dit ʼn oorlading veroorsaak.”

Onvoorsiene brande kom gereeld in Kaïro voor waar miljoen in informele nedersettings woon.

Baioumy, die buurman, het aan AFP gesê brandbestryding is verhinder deur die feit dat die kerk in ʼn baie nou stegie geleë is. Geboue is slegs enkele meter van mekaar af geleë en die brandweerwaens kon nie maklik beweeg nie.

Die Kopte is die grootste Christelike gemeenskap in die Midde-Ooste, sowat 10 miljoen van Egipte se 103 miljoen mense. Die minderheid het al talle aanvalle beleef en kla oor diskriminasie in die hoofsaaklik Moslemland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.