72-uur-skietstilstand in Soedan afgekondig

Khartoem, Soedan. (Foto: AFP)

’n Skietstilstand van 72 uur tussen Soedan se strydende generaals het Sondag in werking getree om voorsiening te maak vir die lewering van broodnodige hulp aan die land.

Verskeie skietstilstand-ooreenkomste is egter oor die afgelope drie maande verbreek.

Die voortslepende konflik in Soedan het op 15 April uitgebreek en sedertdien die lewens van meer as 2 000 mense geëis. Meer as 2,2 miljoen mense, onder wie tientalle Suid-Afrikaners, is uit hul huise verdryf.

Sowat 528 000 mense het noodgedwonge na buurlande gevlug.

Die Verenigde Nasies (VN) se kinderagentskap (Unicef) sê die konflik het die lewens van minstens 330 kinders geëis. Meer as 1 900 kinders is gewond en meer as een miljoen kinders is verplaas.

“Baie meer is in ernstige gevaar,” sê die VN se kinderagentskap.

’n Geraamde 13 miljoen kinders het tans dringend humanitêre bystand nodig.

“Kinders is vasgevang in ’n nagmerrie met geen einde nie, en dra die swaarste las van ’n gewelddadige krisis wat hulle nie geskep het nie – vasgevang in kruisvuur, beseer, mishandel, ontheem en onderwerp aan siektes en wanvoeding,” sê Mandeep O’Brien, verteenwoordiger van Unicef in Soedan.

Khartoem, Soedan. (Foto: AFP)

Aanvalle het die afgelope paar dae verskerp voordat die weermagleier Abdel Fattah al-Burhan en sy adjunk, paramilitêre bevelvoerder Mohamed Hamdan Dagalo, onderneem het om die jongste wapenstilstand te respekteer.

Altesaam 17 burgerlikes, onder wie vyf kinders, is Saterdag in ’n lugaanval in Soedan se hoofstad, Khartoem, dood.

Maroela Media het vroeër berig Fattah al-Burhan en Mohamed Hamdan Dagalo, wat stry gekry het nadat hulle in 2021 saam ʼn militêre staatsgreep uitgevoer het wat Soedan se oorgang na ʼn demokraties verkose bewind ontspoor het, het reeds verskeie skietstilstand-ooreenkomste verontagsaam.

Waarnemers in Khartoem het egter Sondag gesê die situasie is tans “kalm” in die hoofstad.

“Ons wil ’n volle wapenstilstand hê,” het Sami Omar, wat in Omdoerman woon, aan AFP gesê.

“’n Wapenstilstand is nie voldoende vir ons om na ons lewens terug te keer nie. Hulle kan dalk ophou veg, maar die RSF sal nie die huise [wat hulle beset] verlaat nie.”

Die VN bied Maandag ’n internasionale skenkerskonferensie vir Soedan in Genève aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.