Aardbewing van 6,8 tref Tadjikistan

Lugbeeld van die Pamir in Tadjikistan (Foto: Irene2005, oorspronklik op Flickr gedeel as “Flying over Pamir Mountains” via Wikimedia Commons)

ʼn Aardbewing van 6,8 het die oostelike bergagtige dele van eks-Sowjet Tadjikistan Donderdag getref. Geen slagoffers of skade is aangemeld nie.

Die aardbewing het omstreeks 05:37 plaaslike tyd (0037 GMT) plaasgevind op ʼn diepte van sowat 20,5 km, het die Amerikaanse Geological Survey (USGS) gesê.

Die organisasie beraam dat “niemand nie of ʼn baie klein deel van die bevolking” geraak sal word deur grondstortings weens die aardbewing. Die Tadjikse noodkomitee het later bevestig daar was nie enige slagoffers nie en geen skade is aangemeld nie.

Die aardbewing se episentrum was in Gorno-Badakshan, ʼn semi-outonome oostelike streek op die grens met Afghanistan en China, sowat 67 km van die klein bergdorp Murghob.

ʼn Naskok van 5,0 het die gebied sowat 20 minute later getref, gevolg deur ʼn aardbewing van 4,6.

Die ylbevolkte streek is omring deur die gebergtes van die Pamir, waarvan sommige tot 7 000 meter bo seespieël staan, die tuiste van Sarezmeer. Die seegroen meer – gevorm deur ʼn aardbewing in 1911 – is een van Tadjikistan se grootste mere.

Agter Sarezmeer is ʼn natuurlike dam diep in die Pamir en kenners het al gewaarsku oor katastrofiese gevolge indien die dam sou breek.

Met ʼn bevolking van 9,5 miljoen mense is Tadjikistan die armste van die voormalige Sowjetrepubliek en, soos die res van Sentraal-Asië, kom natuurlike rampe gereeld hier voor. Die land het ʼn lang geskiedenis van vloede, aardbewings, grondstortings, sneeustortings en erge sneeustorms.

Nege mense is vroeër op 15 Februarie dood tydens ʼn sneeustorting in Gorno-Badakhshan. Nog ʼn persoon is dieselfde dag dood in ʼn sneeustorting op ʼn snelweg naby die hoofstad Dushanbe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.