Aardbewing van 7.5 skud Peru

Santa Maria de Nieva (Foto: Esejotas, eie werk via Wikimedia Commons)

ʼn Aardbewing van 7.5 het die noorde van Peru Sondag getref. Talle geboue, insluitend ʼn kerktoring, is verwoes. Minstens twee persone is beseer en skokgolwe is reg oor die streek gevoel.

Die aardbewing het om 05:52 (1052 GMT) op ʼn diepte van 131 km plaasgevind, aldus die geofisiese instituut van Peru. Dit het ook skade in die naburige Ecuador veroorsaak.

Die episentrum was 98 km oos van Santa Maria de Nieva in die Peruviaanse Amasonereënwoud – ʼn ylbevolkte gedeelte waar hoofsaaklik inheemse volke woon.

“Daar was ʼn geweldige beweging,” het die dorp se burgemeester, Hector Requejo, aan RPP Radio gesê. Talle houthuise het inmekaargestort.

Die 14 meter hoë toring van ʼn kerk uit die koloniale era het in La Jalca-distrik inmekaargestort.

Grootskaalse kragonderbrekings is aangemeld en die departement van siviele verdediging het gesê twee persone is beseer.

Die aardbewing is in byna die helfte van die land gevoel.

Pres. Pedro Castillo het alle betrokke ministers opdrag gegee “om dadelik op te tree”.

Die aardbewing is nie so sterk in die hoofstad Lima gevoel nie. Lima is meer as 1 000 km suid van die episentrum. Lima, met sy bevolking van 10 miljoen, is egter ure tevore deur ʼn aardbewing van 5.2 getref.

Geen tsoenami-waarskuwing is uitgereik deur Amerikaanse monitors nie.

Peru beleef jaarliks sowat 400 geringe aardbewings. Dit is geleë in die sogenaamde Pasifiese Vuurgordel, ʼn gebied aan die rand van die Stille Oseaan waar gereelde aardbewings en vulkaniese uitbarstings plaasvind. Meer as 500 mense is in Augustus 2007 dood toe ʼn aardbewing van 7.9 die streek getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anniekiewiet ·

Natuurkragte kan alles vernietig, geen mens kan staande bly voor sulke geweld nie, water, vuur, aardbewings…. Noem maar op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.