Andy Murray se trouring, tekkies terug ná dit voete kry

Murray sê sy tekkies het steeds ‘n reukie aan hulle. (Foto: Andy Murray/Instagram)

Andy Murray, ʼn voormalige wêreldnommereen-tennisspeler, het sy volgelinge op sosiale media bedank wat hom help soek het nadat sy trouring en tekkies tussen neus en ore verdwyn het. Dit is Donderdag aan hom terugbesorg.

Murray, wat in die VSA is om voor te berei vir die ATP-meesterstoernooi vandeesweek, het vroeër ʼn plasing op Instagram gedeel dat die tekkies waarmee hy moet deelneem, gesteel is.

Die tennisspeler het sy tekkies – wat ná ʼn dag lange oefening in die Kaliforniese hitte behoorlik gestink het – oornag onder sy motor gelos om uit te droog. Die volgende oggend was dit egter spoorloos.

“Ek wou nie die tekkies in my kamer los nie en my hotelkamer het nie ʼn balkon nie. Ek het dit dus goedgedink om dit net onder my motor te los.”

Murray het eers tydens ʼn besoek aan sy fisioterapeut besef dat sy trouring wat hy uit gewoonte aan sy tekkies vasmaak wanneer hy oefen of in toernooie speel, ook voete gekry het.

“Ek maak my trouring aan my tekkies vas omdat ek nie daarmee aan my vinger kan speel nie. So, nou is my trouring ook gesteel,” het hy gesê.

“Ek is nie tans in my vrou se goeie boekies nie, dus wil ek dit probeer opspoor.”

Murray het ure later die goeie nuus gedeel dat sy tekkies en trouring aan hom terugbesorg is.

Hoewel hy nie uitgebrei het oor hoe dit opgespoor is nie, het hy genoem dat hy ʼn aantal gesprekke met die hotel se sekerheidsbeamptes gehad het.

“Die tekkies stink steeds, maar ek is terug in my vrou se goeie boekies.

“Dankie aan almal wat my pleidooi op sosiale media gedeel het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Daai tekkies moes inderdaad ‘n suur klankie gehad het as die dief dit so vinnig terug gebring het – ha ha ha ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.