Asterix-kunstenaar sterf op 92

Albert Uderzo een van die skeppers van die Asterix-boekereeks. (Foto: Joerg Sarbach, AP)

Albert Uderzo, Frankryk se bekendste tekenprentkunstenaar wat die karakters vir die Asterix-boekereeks geteken het, is Dinsdag in die ouderdom van 92 oorlede.

Uderzo is in sy slaap aan ’n hartaanval in sy huis in Neuilly, ’n voorstad van Parys, oorlede.

Volgens ’n CNN-berig het Bernard de Choisy, Uderzo se skoonseun, gesê sy skoonpa was die afgelope paar weke liggaamlik afgemat.

Hy word onthou as een van die skeppers van die gewilde Asterix-boekereeks.

Uderzo het in 1959 dié reeks saam met René Goscinny geskep. Dit is na meer as sestig jaar tot vandag toe steeds baie gewild.

Uderzo het aanvanklik die karakters vir dié tekenprent geskets, terwyl Goscinny die storielyn geskryf het. Na Goscinny in 1977 oorlede is, het Uderzo ook die skryf van die storie oorgeneem.

‘n Jong Albert Uderezo in 1985 (Foto: Olivier Boitet , AP)

Die karakter van Asterix word uitgebeeld as ’n kort Galliese kryger wat altyd ’n helm met vlerke op sy kop dra. Asterix en Obelix, sy mollige vriend wat hom soos ’n skaduwee gevolg het, het in ’n dorpie in Gallië (vandag Frankryk) gewoon. Hulle het in opstand gekom teen die Romeinse Ryk tydens die era van Julius Caesar.

In 2011 het Uderzo die leisels aan ’n jonger kunstenaar oorgegee en na 52 jaar as tekenprentkunstenaar van die Asterix-reeks afgetree.

Die BBC berig dat ongeveer 370 miljoen eksemplare van die Asterix-boeke reeds wêreldwyd verkoop is. Dié reeks boeke is in dosyne tale vertaal en verskeie is in tekenprente en rolprente vir televisie omskep.

Die Asterix-pretpark buitekant Parys lok tienduisende aanhangers wat op dié ikoniese versetheld en sy handlanger gemik is.

CNN, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.