‘Avatar: The Way of Water’ seil verby $2 miljard-mylpaal

James Cameron. (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

James Cameron se gewilde wetenskapfiksie-fliek Avatar: The Way of Water het pas die $2 miljard-kerf (sowat R34 miljard) verbygesteek met kaartjieverkope van $598 miljoen (R10,2 miljard) in die VSA en $1,42 miljard (R24,4 miljard) internasionaal.

Dié lokettreffer is ook die sesde fliek in die geskiedenis wat hierdie monumentale mylpaal behaal het.

Twee van Cameron se vorige flieks, Titanic en die eerste Avatar, maak ook deel van dié lys uit, wat beteken dat die Amerikaanse regisseur verantwoordelik is vir drie van die ses grootste flieks van alle tye.

Kate Winslet. (Foto: Instagram/Avatar)

Ander flieks op die lys sluit Marvel se Avengers: Infinity War, Avengers: Endgame en Star Wars: The Force Awakens in.

Die eerste Avatar-fliek, wat 13 jaar gelede op die groot skerm was, beklee egter steeds die nommereenplek, met ’n yslike $2,9 miljard (R49,7 miljard).

Avatar is ʼn futuristiese liefdesverhaal tussen ʼn voormalige soldaat, Jake Sully, en Neytiri, ʼn boaardse vroulike wese, wat afspeel te midde van konflik tussen die mensdom en die Na’viwat-volk van die planeet Pandora in die 22ste eeu.

In die jongste aflewering sien kykers ʼn gelukkige Sully en sy nuutgevonde familie wat op Pandora woon, maar wanneer ou vyande terugkeer, moet hy saam met Neytiri en die leër van die Na’vi-ras werk om hul idilliese planeet te beskerm.

Zoe Saldaña. (Foto: Instagram/Avatar)

Variety berig dat Disney na bewering $460 miljoen (R7,8 miljard) bestee het om The Way of Water te vervaardig en bemark. Met ʼn geraamde gelykbreekpunt van $1,5 miljard (R25,7 miljard) is dit dus een van die duurste rolprente wat nog ooit gemaak is.

Cameron is egter nie die enigste bekende om ʼn nuwe mylpaal met The Way of Water te behaal nie.

Die aktrise Zoe Saldaña, wat Neytiri in die Avatar-reeks speel, verskyn ook in albei Avengers-films, terwyl Kate Winslet, wat bekendheid verwerf het vir haar rol as Rose DeWitt Bukater in Titanic, die rol van Ronal in Avatar: The Way of Water vertolk.

Bronne: AFP, Variety.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jean ·

Dis goeie nuus, want dit beteken nommer 3 en 4 gaan defenetief klaar gemaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.