Beaumont bly wêreldrugbybaas

Bill Beaumont. Foto: (AP Photo/Shizuo Kambayashi, File)

Die Engelsman Bill Beaumont is herverkies tot voorsitter van Wêreldrugby.

Beaumont sal nou vir ʼn tweede termyn van vier jaar as voorsitter dien nadat hy Agustín Pichot van Argentinië met 28 stemme teenoor 23 geklop het in die verkiesing. Bernard Laporte is onbestrede tot die posisie van visevoorsitter verkies.

Die uitslae sal amptelik bevestig word by Wêreldrugby se jaarlikse raadsvergadering op 12 Mei waarna die nuwe leierskap se nuwe termyn sal afskop.

Daar is besluit om die aankondiging vroeër te doen nadat albei kandidate daartoe ingestem het aangesien die proses na slegs een rondte afgehandel is. Die stemmery het op 30 April gesluit; daar was 51 stemme beskikbaar en die voorsitter het nie ʼn stem gehad nie.

Volgens Wêreldrugby sal Beaumont, in samewerking met Laporte, op die sterk fondament voortbou om ’n mandaat van progressiewe hervorming te lewer, wat belanghebbendes verenig om die spel vir almal te verbeter.

Dit sal verbeterde regeringshervorming, ’n belynde en geïntegreerde benadering tot die wêreldkalender, versnelde prioritisering van die welsyn van spelers, beseringsvoorkoming en gewysigde kontakvariante, versnelde bevordering van die vrouespel en volhoubare investering in die sport insluit.

Daar word gewerk aan ’n wêreldwye vyftiental-kompetise vir vroue sowel as ’n manskompetisie vir opkomende lande.

“Ek is geëerd om die mandaat van die Wêreldrugbyraad te aanvaar om weer as voorsitter van die internasionale federasie te dien, en wil my unie- en streekkollegas, lede van die wêreldrugbyfamilie en natuurlik my familie bedank vir hul volle ondersteuning,” het Beaumont gesê.

Hy het ʼn beroep op die organisasie gedoen om aan die gang te kom en rugby se planne bekend te maak om die uitwerking van die Covid-19-pandemie te versag en progressiewe veranderinge te implementeer. “Ons het die afgelope vier jaar baie bereik, maar ons is in rustyd en moet met die tweede helfte aangaan. Ek het nou ’n duidelike mandaat om met Bernard saam te werk om progressiewe, volhoubare verandering te implementeer.”

Die nuwe uitvoerende komitee van Wêreldrugby is Beaumont (voorsitter), Laporte (visevoorsitter), Brett Gosper (uitvoerende hoof), Angela Ruggiero (onafhanklik), lord Mervyn Davies (onafhanklik), Mark Alexander (SA Rugby), Khaled Babbou (Rugby Afrika), Bart Campbell (Nieu-Seeland Rugby), Gareth Davies (Walliese Rugbyunie), John Jeffrey (Skotse Rugbyunie), Bob Latham (VSA Rugby) en Brett Robinson (Rugby Australië).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Flip ·

Ek wonder of Mark Alexander vir wereld rugby ook gaan sê dat hulle nie genoeg swart afrigters het nie.

Frans ·

Dit bly maar ‘n ongelyke stryd want die sesnasie-spanne het elk drie stemme.Die suidelike halfrond se vier spanne het ook elk drie stemme.So dit is van die begin af 18 teen 12.
Daar is ‘n totaal van 51 stemme.Jy het dus 26 nodig om te wen. Dit beteken dat Beaumont net nog agt stemme gekort het om verkies te word,terwyl die Suidelike halfrond kanditaat Agustín Pichot 14 stemme nodig het om verkies te word.
Toe Japan met twee stemme sy gewig agter Beaumont gooi was die skrif aan die muur.Die Noordelike halfrond het mi te veel seggenskap en kon tot dusver net 1 wêreldbeker wenner nl Engeland oplewer,terwyl die Suidelike halfrond saam die beker al 8 keer gewen het het.Ek sou dus reken dat lande wat die wêreldbeker gewen het meer seggenskap moet uitoefen oor wie wêreldrugby moet bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.