Bekende meme-meisie neem eie lewe

Die bekende meme. (Foto: TLC/YouTube)

Die werklikheidster wat onbepland bekend geword het nadat sy ʼn meme geword het, is op 16-jarige ouderdom dood nadat sy selfmoord gepleeg het.

Kailia Posey, wat as jong kind in die werklikheidsprogram Toddlers and Tiaras verskyn het, is vroeër vandeesweek in Washington in die VSA oorlede.

Haar familie het die nuus aan die Amerikaanse poniekoerant TMZ bevestig.

“Hoewel sy ʼn bekwame tiener met ʼn blink toekoms was, het sy ongelukkig in een onstuimige oomblik die oorhaastige besluit geneem om haar lewe te beëindig.”

Die omstandighede rakende haar dood is nog nie bekend nie.

Kailia se gesin is verpletter deur haar onverwagse dood en sê dat sy soveel prestasies gedurende haar 16 jaar op aarde bereik het.

“Sy het etlike krone en trofees gewen nadat sy haar hele lewe daaraan gewy het om aan skoonheidskompetisies deel te neem,” sê haar gesin.

“Haar hoogsaangeskrewe talent as ʼn kontorsionis het reeds daartoe gelei dat sy talle professionele werksaanbiedinge gekry het en sy is onlangs gekies om ʼn pompom-meisie by haar skool te wees.”

Buiten al hierdie prestasies, het Kailia ook ʼn liefde vir die lugvaartbedryf gehad. Sy het planne gehad om steeds in die vermaaklikheidsbedryf te werk, terwyl sy haar doelwit om ʼn kommersiële vlieënierslisensie te bekom, sou nastreef.

Kailia het toevallig beroemd geraak nadat sy in die program oor die lewe van gesinne wie se kinders vir skoonheidskompetisies voorberei, verskyn het.

Haar glimlag in die program het gewild geraak en sosialemediagebruikers het haar as die “grinnikende meisie” gedoop. Die meme van haar laggesig word steeds, jare later, geredelik op aanlyn forums gebruik.

Kailia se familie het sedert haar afsterwe ʼn fonds in haar naam begin in die hoop dat die nodige hulpbronne aan kinders met selfmoordgedagtes verskaf sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

LD ·

Sy was verseker te mooi vir hierdie lelike wêreld! Rus in vrede en sterkte aan die naasbestaandes!

melaney ·

Die tekens was moontlik al daar maar in so ‘n besige samelewing sien ons dit die raak nie. Baie hartseer!

Misky ·

Dit is so hartseer as tieners so jonk al voel dat hulle hulle eie lewe moet neem. Ouers sit teveel druk op kinders met die skoonheidskompetisies en dit gaan net oor wen vir hulle. RIV Kailia

Sandra ·

Dis nou hartseer. Die lewe se druk het seker te veel geword vir die mooie kind. My simpatie gaan aan haar familie

Winnie ·

Die ouers gewoonlik die ma sit soveel druk op klein dogtertjies om al wat ‘n skoonheidskompetisie te wen dat kinders dan vou onder al die druk. Was dit alles die moeite werd om al daai toekennings te kry? Ek dink nie so nie. Sy was pragtig

Jason ·

South African Depression and Anxiety Group:
To Contact A Counsellor Between 8am-8pm Monday To Sunday,
Call: 011 234 4837 / Fax Number: 011 234 8182
For A Suicidal Emergency Contact Us On 0800 567 567
24hr Helpline 0800 456 789

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.