Bekende rocker sterf op 50

Die Foo Fighters ná ‘n konsert.  Hawkins is heel regs. (Foto: Facebook/ foo Fighters)

Taylor Hawkins, tromspeler van die rockgroep Foo Fighters, is Vrydag op die ouderdom van 50 dood.

As deel van een van die wêreld se invloedrykste alternatiewe rockgroepe, was Hawkins bekend vir sy charisma op die verhoog en ook vir sy klassieke rock-geïnspireerde ritmes.

“Die Foo Fighters-familie is platgeslaan deur die tragiese en ontydige verlies van ons geliefde Taylor Hawkins,” het die groep op Twitter gesê. “Sy musikale gees en aansteeklike lag sal ons ewig bybly.”

Die nuus is bekendgemaak op dieselfde dag wat die groep veronderstel was om by ʼn musiekfees in Colombia op te tree. Die optrede is intussen gekanselleer. Die oorsaak van Hawkins se dood is nie bekendgemaak nie.

Die tromspeler Taylor Hawkins wys sy slag tydens ‘n konsert van die Foo fighters. (Foto: Facebook/ Foo Fighters)

Hawkins was sedert 1997 ʼn lid van Foo Fighters nadat die hoofsanger en voormalige tromspeler van Nirvana, Dave Grohl, hom raakgesien het. Dit was sy slag met die tromme wat gehelp het om liedjies soos “Learn to Fly” en “Best of You” treffers te maak.

Sedert die nuus van sy dood bekendgemaak is, stroom huldeblyke vir Hawkins in. Ozzy Osbourne, hoofsanger van Black Sabbath, het hom beskryf as ʼn wonderlike mens en ʼn fantastiese musikant. Die punkrocker Billy Idol het sy dood as tragies beskryf.

Die rockgroep Nickelback het ook sy medelye met Hawkins se vriende en familie op Twitter betoon en gesê die nuus is vir die lede van die groep ʼn groot skok.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.