‘Berge versit’ om seuntjie uit put te red

Reddingswerkers spook al dae lank om by die vasgekeerde seuntjie uit te kom. (Foto: Fadel Senna/AFP)

Marokkaanse reddingspanne het deur die nag gewerk – hul vyfde dag – in ʼn senutergende poging om ʼn vyfjarige seuntjie wat ondergronds in ʼn put vasgekeer is, te probeer red.

Die ingewikkelde, stadige en gevaarlike grondverskuiwingsproses het inwoners van die Noord-Afrika-koninkryk aangegryp en selfs in buurlande groot simpatie veroorsaak.

Rayan het Dinsdag sowat 32 m ver in die nou, leë skag naby sy ouerhuis in die afgeleë Chefchaouen-provinsie geval.

Reddingspanne met stootskrapers en ander swaar masjinerie het amper tot by klein Rayan gegrawe. Die laaste twee meter is egter die gevaarlikste weens die gevaar van grondverskuiwings.

Daar was tot dusver geen inligting oor die lot van die seuntjie nie, maar hoe meer tyd verloop, hoe groter word vrese dat hy nie lewend gevind gaan word nie.

Reddingspanne het oornag ʼn swaar pyp in die grond ingewikkel.

“Ons is amper daar,” het Abdesalam Makoudi, een van die reddingsoperasie se leiers, gesê. “Moegheid skop nou in, maar die hele span byt vas.”

Dit is tans bitter koud in dié verarmde Rif-streek. Reddingswerkers het Donderdag suurstof en water tot op die bodem van die put laat sak, terwyl duisende mense by die toneel, omring deur olyfbome, saamgedrom het om die vordering dop te hou. Sommige het hande geklap om reddingswerkers aan te moedig.

Die skag is net 45 cm breed – te nou om tot by Rayan af te klouter – en dit word as te gevaarlik beskou om dit te probeer verbreed. Trugrawers is dus ingespan om in die heuwel in te grou sodat reddingswerkers Rayan van die kant af kan probeer bereik.

Duisende mense het na die perseel gestroom om reddingswerkers te vordering dop te hou. (Foto: Fadel Senna/AFP)

Die omgewing lyk tans soos ʼn bouterrein, met ingenieurs en topograwe wat die beste oplossing in die mengsel van klip- en sandgrond probeer vind.

“Ek bly hoop dat hulle my kind lewend sal vind,” het Rayan se pa aan die openbare uitsaaier 2M gesê. “Ek wil almal bedank wat betrokke is, asook diegene in Marokko en elders wat ons ondersteun.”

Die seun se ma het aan Marokkaanse media gesê Rayan het in die omgewing gespeel toe hy Dinsdagmiddag verdwyn het. “Die hele familie het na hom gaan soek. Ons het besef hy het in die put geval,” het sy met trane in haar oë vertel.

Die drama het groot simpatie aanlyn veroorsaak, met die Arabiese hutsmerk #SaveRayan wat oor Noord-Afrika gewild was.

“Reddingswerkers is letterlik besig om ʼn berg te versit om klein Rayan te red. Ek hoop hul pogings is nie vergeefs nie en dat diegene wat vir hom bid, se gebede beantwoord word,” het ʼn gebruiker geskryf.

Mense kampeer tans rondom die omgewing, met motors wat paaie na die soekterrein toestaan.

Die owerhede het ʼn beroep op mense gedoen om die “reddingswerkers toe te laat om hul werk te doen en die kind te red”.

Een vrywilliger het egter gesê hulle is daar om te help. “Ons is al drie dae lank hier. Rayan is ʼn kind uit ons streek en ons sal nie padgee tot hy uit die put is nie,” het hy gesê.

Die voorval herinner aan ʼn ongeluk in Spanje in 2019, toe ʼn tweejarige kind dood is nadat hy ook in ʼn ongebruikte put geval het. Julen Rosello se liggaampie is ná ʼn soek-en-reddingsoperasie van 13 dae lank gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.