Besit self Paul Krugerhuis vir (net) R214 miljoen

Krugerhuis in Switserland (Foto: Rockwell Properties)

Die Krugerhuis in Switserland, waarin die oudpresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), Paul Kruger (1825-1904), gesterf het, is nou weer vir ʼn allemintige R214 miljoen (CHF9,9 miljoen, dus in Switserse frank) op die mark.

Afsterwe in bannelingskap

Paul Kruger het sy laaste vier lewensjare gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in die buiteland deurgebring en uiteindelik op 14 Julie 1904 as banneling in die Villa N°17 Dubochet in Clarens, Switserland, gesterf.

Die Krugerhuis in Switserland is in 1873 as een van 17 villas gebou na aanleiding van die visie en opdrag van die Switserse sakemagnaat Emmanuel-Vincent Dubochet, met bekroonde argitekte Emile Hochereau en Louis Maillard as skilders van dié visie.

Uitsig vanaf die Krugerhuis (Foto: Rockwell Properties)

By dié 350 m2 -villa met sy 12 slaapkamers, twee kombuise, ʼn uitsig op die Genève-meer en die Switserse Alpe, het Kruger sy laaste maande deurgebring.

Nadat die oorlog op 11 Oktober 1899 uitgebreek het, het Kruger die Volksraad vir ʼn laaste keer op 7 Mei 1900 toegespreek. Op 9 Mei 1900 verlaat hy Suid-Afrika onderweg na die destydse Lourenço Marques (vandag Maputo) net voor die Britse leër Pretoria op 5 Junie 1900 beset.

Die tuin (Foto: Booked.net)

Weens Kruger se ouderdom en swak gesondheid het die Boeremagte in daardie stadium sy terugkeer na Suid-Afrika gevrees. Vanaf Lourenço Marques het Kruger en sy gevolg na Nederland en uiteindelik Frankryk in Marseilles gereis om die vryheidstryd op diplomatieke vlak in Europa voort te sit.

Kruger en sy gevolg het op 24 Mei 1904 by die Villa N°17 Dubochet in Clarens (ook later genoem die Villa Kruger) aan huis gekom. Kort daarna, op 9 Julie 1904, doen Kruger ernstige longontsteking op en op 14 Julie sterf hy.

Paul Kruger se gedenkdiens by die NG Kerk Pretoria, 16 Desember 1904. (Foto: Wikipedia)

Begrawe op tuisbodem

Ná die oudpresident se dood is sy oorskot uiteindelik eers op 10 Desember 1904 per skip na Suid-Afrika gerepatrieer en hy word op 16 Desember in die Heldeakker in Pretoria langs sy vrou, Gezina, begrawe.

Die Britse regering het aanvanklik geweier om Kruger se oorskot in Suid-Afrika te ontvang omdat hulle na bewering gevrees het dit sal ʼn oplewing van Afrikanernasionalisme aanvuur.

Krugerhuis ná Kruger

Dr. Danie Langner, voorsitter van die FAK, verduidelik die huis se geskiedkundige verloop ná Kruger se dood.

Die eetkamer (Foto: Rockwell Properties)

“Die sterfhuis van pres. Kruger word reeds sedert 1910 as ʼn museum bedryf. Op 10 Oktober 1949 kondig die eerste minister, dr. DF Malan, aan dat die sterfhuis in Switserland aan die Suid-Afrikaanse regering te koop aangebied is en die FAK word versoek om die [destydse] £10 000 daarvoor in te samel.

“Landwye insamelings is onder leiding van die FAK van stapel gestuur en die geld is in ʼn rekordtyd ingesamel. Die huis is op 27 Februarie 1950 gekoop.”

Die Krugerhuis is daarna deur die Suid-Afrikaanse ambassade in Bern namens die Suid-Afrikaanse regering in stand gehou en die ambassade het ook die personeel en opsigters aangestel.

Die sitkamer (Foto: Rockwell Properties)

“Die sterfkamerbed is in 1932, toe genl. JBM Hertzog eerste minister was, aangekoop en na Suid-Afrika gebring. Dit is tans nog in die Krugerhuis in Pretoria. Kort voor die 1994-verkiesing het die kabinet die oordrag van die Krugerhuis aan die FAK [om te bestuur] goedgekeur,” verduidelik Langner.

“Mnr. Johann Roode, uitvoerende voorsitter van Genfood, wat self die belange van Suid-Afrika en sy geskiedenis op die hart gedra het, het persoonlik betrokke geraak en Genfood het ingestem om die gebou oor te neem, te restoureer en as gastehuis te benut – Villa Kruger.

“Intussen het die huis al twee keer van eienaar verwissel.”

Die uitsig vanaf die stoep (Foto: Rockwell Properties)

En die sterftekamer self?

“ʼn Serwituut oor die sterftekamer is in 1996 ten gunste van die FAK geregistreer, sodat die sterftekamer as gedenkwaardigheid behou word. Hierdie serwituut het egter in 2021 verval, met die nuwe eienaars wat dit ook nie verleng het nie,” sê Langner.

Die huidige stand van sake?

Langner verduidelik: “Die FAK het na aanleiding van die feit dat die huis weer op die mark is, aan die betrokke prokureurs geskryf en gevra dat die oorspronklike meubels en ander gedenkwaardighede, waaronder ʼn oorspronklike marmerblok van die Voortrekkers, terug aan die FAK besorg kan word indien die nuwe eienaars nie in Kruger se sterftekamer belangstel nie.”

Een van die slaapkamers (Foto: Rockwell Properties)

Die FAK wil hierdie meubels na Suid-Afrika terugbring vir uitstalling by die Voortrekkermonument sodat dit onder die FAK se toesig op behoorlike wyse versorg kan word, “voor ʼn mens alles verloor”.

Nog geen terugvoer hieroor is ontvang nie.

‘Swiss’, wes, tuis bes?

Op 29 Junie 1904, kort voor sy dood, skryf Kruger sy beroemde “Laaste boodskap”-brief aan genl. Botha in Suid-Afrika waarin hy onder meer ʼn verduideliking gee oor die feit dat hy in ʼn vreemde land sterf: “Geboren onder de Engelsche Vlag, wensch ik niet daaronder te sterven.”

Nog ‘n slaapkamer (Foto: Rockwell Properties)

Kruger is al uit sommige oorde gekritiseer omdat hy, hoewel nie onder die Britse vlag nie, ook ver weg van sy mense gesterf het.

“Die feit dat Kruger in ballingskap was, het vir die Boere tydens die oorlog hoop gegee om aan te hou veg. Ná die oorlog het Kruger wat in ballingskap bly, ʼn vryheidsimbool geword. Die feit dat Kruger in ballingskap was, het hom in staat gestel om die Boeregeneraals tuis te help om vanuit Europa geld in te samel vir die weduwees, weeskinders en die heropbou van Transvaal ná die oorlog,” verduidelik Langner.

Nog ‘n sitkamer (Foto: Booked.net)

“Die feit dat Kruger in ballingskap gesterf het, het eintlik daardie republikeinse vlaggie aan die lewe gehou ná die oorlog; hy was nooit die president wat teruggekom en oorgegee het nie.

“Dit was beslis ʼn baie taktiese, politieke skuif om Kruger tot sy afsterwe in bannelingskap te hou.”

Kruger se sterftekamer (Foto: Tripadvisor)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hector ·

Kruger – Oom Paul – het my steeds as ‘n Afrikanervriend, nà aan die Vlaamse hart gelé. Vat net die ‘detail’ dat hy na ‘n jagongeluk sy mes gevat en sy eie duim afgesny het! Dit moet gedoen wees! ‘n Man van yster en staal!

Stofdonkie ·

Daar lê ‘n hele hoop Kruger-ponde onder daardie fontein voor sy huis daar in Switserland. As mens net die geld gehad het om dit te kon gaan haal…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.